Die voormalige Onderwyserskollege Graaff-Reinet, ook genoem “Graaffies” hou vanjaar op 5, 6 en 7 Oktober ‘n groot reünie by die Botaniese Tuine op Graaff-Reinet.
“Hierdie een sal vir seker die grootste en dalk een van die laaste reünies wees want die jongste van dié oudstudente is al in hul middel en laat 50’s,” sê Anton van Rensburg, voorsitter van die Graaffies reünie-reëlings-komitee.
“Daar is in 2012 en 2016 twee groot reünies gehou, maar omdat van die oudstudente en –dosente nou vinnig oud word, het ons besluit om vanjaar in plaas van 2020 ’n reünie te hou.”
Tydens die 2016 reünie het die groep die ou kollegeperseel besoek. Hulle het vanjaar wéér toestemming gekry om daar te gaan rondloop en herinneringe en staaltjies te deel.
Die onderwyskollege het ’n ryk geskiede-nis en die ou gebou is amptelik op 2 November 1903 deur die destydse superintendent-gene-raal van onderwys van die ou Kaapkolonie geopen. Die gebou is tot 1922 deur die huidige Volkskool gebruik.
In 1924 het die Onderwyserskollege Graaff-Reinet sy deure vir onderwysopleiding geopen. Die laaste dagstudente het hul opleiding in 1986 voltooi. Hierna is die kollege se naam na Graaff-Reinet Kollege vir Voortgesette Opleiding verander waar daar toe indiens-opleiding aangebied is.
In 1990 sluit die kollege sy bedrywighede. Sedertdien gebruik die SAPD dit as ‘n polisieakademie.
)Vir meer inligting oor die reünie bel vir Anton van Rensburg by 084 511 1012 of e-pos antonrv@mweb.co.za.
– HEILIE COMBRINCK