’n ONDERWYSER van Kirkwood, Emelda Kayser-Nel, stel eersdaags haar debuutbundel “Geanker in Ink” vry.
In haar boek word die dualisme tussen natuurskoon en die weerloosheid van die mens ondersoek. Die gebroke werklikheid van Kayser-Nel se ervaringswêreld word treffend verbeeld en sy takel taboe onderwerpe waaroor mense nie graag praat nie. Sy dig oor die dood van haar pa in “Lied van blomme” en skryf ‘n brief aan haar oorlede suster in “Liewe Nicky”. Hierin vertel sy van diepe wroegings en laat toe dat die leser ‘n baie hartseer en intieme deel van haar lewe meemaak.
Ondanks baie teleurstellings in haar lewe, bly sy gefokus op ‘n beter toekoms aangesien sy weet wat dit is om alleen, teneergedruk, en depressief te wees. Die veertig ge-digte in die bundel is tekenend van die Bybelse veertig dae, wat duidelik deur God beskou word as ‘n betekenisvolle spirituele periode. Dit dui op verandering en ‘n positiewe ingesteldheid teenoor die lewe, ongeag talle teleurstellings.
Kayser-Nel is verbonde aan St. Colmcille Senior Sekondêre Skool in Kirkwood waar sy Afrikaans en Geskiedenis onderrig.
Buiten dat sy skryf, skilder sy ook graag. Mense wat met Emelda wil kontak maak oor haar digbundel kan haar bel by 081 007 0269.