Nuwe seisoen vir Despatch-gemeente

Die AGS Lighuis Christelike Sentrum in Despatch het Sondag, 2 Junie, ‘n nuwe pastoorspaar in hul midde verwelkom.


Die AGS Lighuis Christelike Sentrum in Despatch het Sondag, 2 Junie, ‘n nuwe pastoorspaar in hul midde verwelkom.

Pastoor Morné Spies en sy vrou, Chanel, is beroep om die leisels oor te neem by pastoor Corrie Muller en sy vrou, Maryna, wat vir 25 jaar hier die pastoorpaar was.

Die Muller-egpaar en hul drie kinders het tydens September 1993 in Despatch aangekom.

Hulle het nie net in die AGS-gemeente nie, maar ook in die gemeenskap ‘n groot verskil kom maak.

Hulle was wel bekend vir hul diensbaarheid, hul omgee en hul liefde vir almal. ‘n Groot hoogtepunt was die dag toe die gemeente se bouprojek, ‘n 500 sitplek auditorium, se deure geopen is in 1996.

Na ‘n leeftyd van diens en opoffering, het pastoor Muller emeriti status geneem en sal as mede-leraar tot Desember dien.

“Net soos in die natuur waar daar seisoene is, is daar in mense se lewens en in gemeentes ook seisoene. Seisoene verskil van mekaar, maar elkeen hou soveel van sy eie mooi,” sê Pastoor Spies.

Hy en Chanel is sedert 2012 mede-leiers van dié gemeente.

Pastoor Spies het by die AGS Teologiese Kollege en RAU in Auckland Park, Johannesburg gestudeer. Chanel is ’n bekende in sangbediening en het reeds drie geestelike albums uitgereik.

Hul is beide ook vryskutskrywers vir Carpe Diem Media se Finesse tydskrif.

“Ons het nie kennis oor die toekoms nie, ons weet nie watter draaie ons lewenspaaie inhou nie, maar ons weet wie saam met ons stap.

“Deur God se leiding en wysheid sal ons trots voorloop, met die wete ons loop nie alleen nie, die gemeente loop saam,” sê Pastoor Spies.

  • Alle belangstellendes word uitgenooi na pastoor Morné Spies se intreepreek Sondag, 9 Junie om 09:00 in die AGS Lighuis-kerk, De Langestraat, Despatch. – VERSLAGGEWER

You need to be Logged In to leave a comment.