WERKSOEKERS sê dikwels daar is nie werk nie of hulle kry nie werk nie. Daarteenoor sê werkverskaffers hulle kry nie betroubare, eerlike werkers wat trots is op dit wat hulle doen nie.
Dit is hier waar Work 4 A Living intree en werksoekers bemagtig om werkgereed te wees. Die program se doel is om werksoekers te wys op die belangrikheid van werketiek, die regte besluite vir finansiële onafhanklikheid en om die “ek-is-werkloos-die-wêreld-skuld-my” sindroom af te skud.
“Dit gaan oor keuses, beginsels en waardes. Ons leer nie mense wat om te doen nie, maar gebruik scenarios uit hulle eie leefwêrelde om te verduidelik hoe anders hulle finansiële situasies kan wees,” sê Marissa Wilken, ’n sosiale entrepreneur en fasiliteerder van Work 4 A Living in Kirkwood.
Dié Work 4 A Living werkgereedheid-program is ’n nie-winsgewende organisasie wat vir die afgelope 12 jaar landswyd aangebied word.
Dit is in die proses om ook internasionaal aangebied te word met die fokus op karakterbou.
“Uit die 7 kandidate wat ’n vorige program op Kirkwood voltooi het, het 4 werk gekry en 2 het hulle eie klein besighede begin,” sê Marissa.
Die program van 13 dae sluit onder andere in hoe om ’n werk te soek, hoe om ’n werkonderhoud te hanteer en basiese werketiek. Daar word ook gefokus op hoe om jou geld te bestuur, ’n begroting op te stel en hoe om jou eie klein-besigheid te begin.
“Ons gee vir deelnemers aan die program R50 om ’n besigheid te begin.
“Die rekord was ’n groep wat binne twee weke R3 800 wins gemaak het,” sê Marissa.
Alle belangstellendes is welkom om die program by te woon. Die volgende program en laaste een van die jaar begin op Donderdag, 29 November en die koste is R100. Die program duur 13 dae en is ’n verreikende ervaring vir werksoekers.
- Vir meer inligting bel Marissa Wilken by 074 510 5204 of e-pos work4alivingimpact@gmail.com