DIE Noord-Suid Derby van skolerugby wat vanjaar vir die eerste keer in die Oos-Kaap aangebied is by HTS Daniel Pienaar, was ’n toonvenster van uitstekende jong talent.
Agt skole, vier uit die noorde en vier uit die suide het deelgeneem en ’n totaal van 32 spanne het in 48 wedstryde kragte gemeet. Die skole uit die noorde was Ben Vorster (Tzaneen/Limpopo), Marais Viljoen (Alberton/Lions), Hoërskool Middelburg (Pumas) en Transvalia (Vanderbijlpark/HTS Drostdy) en die skole uit die Suide was HTS Daniel Pienaar (OP), HTS Drostdy (Worcester/Boland), Nico Malan (Humansdorp/OP) en Strand (WP).
“Dit was ’n groot sukses. Nie alleen kon meer as 800 rugbyspelers en afrigters van oor die land aangenaam met mekaar op sosiale vlak verkeer en by mekaar kers opsteek nie, maar toeskouers het ook baie goeie rugby gesien, vanaf o.14 tot op eerstespanvlak,” het Moolman Olivier, organiseerder van die Noord-Suid rugbytoernooi, gesê.
Die eerstespan wat die beste vertoon het, was HTS Drostdy.
“Goeie hardlooprugby is gespeel en hulle het al drie hul wedstryde met gemak gewen. Veral hul o.14A-span was briljant en word definitief as een van die bestes in die land gesien.”
Daniel Pienaar het goed vertoon, hulle voorspelers het hul man gestaan en die bal is by tye goed versprei.
Die Tiere was ongelukkig om in hul laaste wedstryd teen Hoërskool Middelburg te verloor. Dié skool se eerstespan het al hulle wedstryde gewen.
Sampie Marais, skoolhoof van HTS Daniel Pienaar, bedank weereens die toernooi-borge vir hul bereidwilligheid om skolesport in die gemeenskap te bevorder. Hy bedank ook alle ondersteuners, ouers, afrigters, personeel en leerders wat hierdie toernooi moontlik gemaak het.
“Die Tiere sien uit na ‘n goeie rugbyseisoen en nooi die gemeenskap om soos gewoonlik deel van hierdie opwinding te wees,” het Marais gesê.