DIE Noord-Suid Derby van skolerugby word vanjaar vir die eerste keer in die Oos-Kaap aangebied by HTS Daniel Pienaar op Uitenhage. ’n Totaal van 32 spanne gaan kragte meet in 48 wedstryde.
Agt skole, vier uit die noorde en vier uit die suide, gaan op 16, 18 en 20 Maart aan die derby deelneem. Die skole uit die noorde is Ben Vorster (Tzaneen/Limpopo), Marais Viljoen (Alberton/Lions), Hoërskool Middelburg (Pumas) en Transvalia (Vanderbijlpark/HTS Drostdy (Worcester/Boland), Nico Malan (Humansdorp/OP) en Strand (WP).
Wedstryde word gespeel in die o.14A, o.15A en o.16A afdelings sowel as die eerste spanne.
Die eerste dag se wedstryde (Saterdag, 16 Maart) sluit in die gashere, DP se Tiere, in hul openingswedstryd (ook hoofwedstryd) teen Marais Viljoen.
HTS Drostdy se “Donkies” pak Transvalia en beide dié spanne het verlede jaar onder die top 20 skolerugbyspanne in die land getel. Ben Vorster gaan op dag een kragte meet teen Nico Malan.
DP se Tiere gaan in die ander wedstryde teen Transvalia en Hoërskool Middelburg speel.
Volgens Moolman Olivier, toernooi-direkteur, gaan daar 16 wedstryde per dag gespeel word. Dit is die vierde en grootste Noord-Suid Derby met ’n totaal van 840 deelnemers.
“Almal speel om te wen, maar daar is nie ’n beker of Derby-wenner nie, want al die skole speel nie teen mekaar nie,” sê Olivier.
Wedstryde gaan op Livestream en You Tube wees en kan ook op grootskerm by DP gekyk word.
Elke kind wat deelneem gaan ’n Noord- Suid Derby-hemp ontvang, die noorde se hemde is rooi en die suide is blou.
Plaaslike borge wat die Noord-Suid Derby ondersteun sluit in: Peter Benn Motors, Buco, Symara, Motorvia, Crash Motors, Despatch Superspar, Klinicare, OK Mini Mark Uitenhage, Nedbank, Absa, Woodlands, Nissan EC, Levyvale Superspar, Levyvale Superspar DC, Wild Rapids Spur, Lynette@Law, Montego, DPM Quarries en Cutron Electrical.
’n Openingseremonie word môre-aand (15 Maart) gehou en besoekende skole gaan in die koshuise van DP, Strelitzia en Bergsig tuisgaan.
Saterdag (16 Maart) en Maandag (18 Maart) se wedstryde skop om 08:00 af en die laaste wedstryde begin 15:10. Woensdag (20 Maart) begin die wedstryde 07:00 en die laaste wedstryde is om 11:00.