Die Nasionale Konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Musiekonderwysers (SAVMO) vind vanaf 14 tot 16 Maart in die Suid-kampus Ouditorium van die Nelson Mandela Universiteit plaas.

Dit is die eerste keer in 30 jaar dat hierdie konferensie in Port Elizabeth aangebied word en musiekliefhebbers kan beslis uitsien na ‘n hoogtepunt op die plaaslike musiekkalender.

Dialoog, debatte en indrukwekkende voorleggings oor musiekverwante aangeleenthede is op die agenda, maar die kern van musiek lê steeds in musiekmaak! Daarom sal 10 musiekdepartemente in die Nelson Mandela-metropool tydens die konferensie musiekvertonings lewer.

Die gala-konsert, om 19:00 op 14 Maart, behoort aan die konsert-orkes van Hoërskool Grey, terwyl die konsert-orkes van Hoërskool Pearson op 15 Maart ‘n middaguurkonsert aanbied.

Mastrimba optrede

Ander optredes sluit in die koor van Hoërskool Collegiate, Laerskool Greenwood konsert-orkes, die Lawson Brown Staaldrom en Marimba-Orkes, die ‘Mastrimba’-Orkes van Hoërskool Strelitzia, St Dominic’s Priory Marimbas, die Guitar-Ensemble van Laerskool Summerwood en die Jazz Orkes van Hoërskool Victoria Park.

‘n Soirée deur Erika Bothma (klavier), David Bester (viool) en Njabulo Mthimkhulu, drie van NMU se voorste musici, kan voorts as ‘n musikale hoogtepunt beskou word.

Hoofsprekers

Beide die visie-kanselier van die Nelson Mandela Universiteit, prof. Sibongile Muthwa en die alombekende dr. Richard Cock, vooraanstaande dirigent sal as hoofsprekers optree. Die aanbieding deur prof. Alethea de Villiers, hoof van die NMU Musiekdepartement sal fokus op “Musiek en Opvoeding”.

Verskeie ander voorleggings sal gedoen word deur onder meer Mark Brand, prof. Jeffrey Brukman, dr. Boudina McConnachie, Gareth Walwyn, Christian Carver en Junita van Dijk.

Getrou aan die inklusiewe aard van SAVMO is voorleggings nie beperk tot die personeel van tersiëre instansies nie, musiekonderwysers gaan ook aanbiedings doen.

  • Vir registrasie om die konferensie by te woon kontak nicky.bosman@mandela.ac.za / 041 504 4235.

You need to be Logged In to leave a comment.