’n Jaar van mylpale vir Despatch Rugbyklub

Is dit ’n 50ste, ’n 60ste of ’n 80ste? Vir Despatch Rugbyklub is dit al drie hierdie jaar.


Is dit ’n 50ste, ’n 60ste of ’n 80ste? Vir Despatch Rugbyklub is dit al drie hierdie jaar.

Voor jy begin kopkrap oor dié raaisel, lees bietjie verder . . .

Die klub is amptelik gestig op 18 Augustus 1944, nog voor die dorp se munisipaliteit ’n realiteit geword het. Die rugbyklub is die oudste klub in Despatch en is ook een van die oudste rugbyklubs in die Oos-Kaap.

Sy 80ste bestaansjaar sal later vanjaar gevier word met ’n beplande naweek-lange fees, wat die Vrydag reeds met ’n gala-geleentheid sal begin, gevolg deur ’n toernooi vir laerskole en hoërskole, en eindelik ’n kerkdiens die Sondagoggend.

En asof dit nie rede genoeg is om partytjie te hou nie, vier hulle ook die klub se W.J. de Wet pawiljoen se 50ste jaar. Die pawiljoen is in Oktober 1973 voltooi.

Boonop is dit ook die klub se direkteur van rugby en vise-president Bassie van der Walt se 60ste jaar wat hy by rugby betrokke is. Alhoewel hy nie die volle ses dekades by Despatch Rugbyklub ’n lid was nie, meen die ander bestuurslede dat dié mylpaal ook ’n kersie op die koek verdien.

“Ons wil sien dat mense weer liefraak vir die dorp se rugby. Die plaaslike mense, die mense op die dorp, wil ons weer betrokke sien raak en van die ouer ooms herinner aan die goeie tye toe hulle vir die klub gespeel het,” het Vivian Delport, sekretaris van Despatch Rugbyklub, vertel.

wj de wet

Dié foto van dr. W.J. de Wet hang vandag nog in die rugbyklub. Die pawiljoen is na hom vernoem.
Van 1944 tot nou: Het jy geweet?
  • Volgens Vivian Delport, huidige sekretaris van Despatch Rugbyklub, is hulle die enigste klub in die Oos-Kaap wat al die nasionale klubkampioenskap gewen het. “Want ons het vir Danie Gerber gehad!” Dit was in 1985 en 1986. Hulle het dit ook vir ’n derde keer in 2013 gewen.
  • Die pawiljoen is vernoem na dr. W.J. de Wet. Hy was president van die Despatch Rugbyklub vanaf 1969 tot 1982.
  • Despatch Rugbyklub is die oudste klub op Despatch.
  • Tony Muller, Tienie du Preez, Piet Human, Gideon van Rensburg, Caby Moore, Rolf Zehmke, Rudi Koertzen, Danie Gerber, Charl Matteus, Rassie Erasmus; hierdie is net ’n paar van die manne – en vroue – wat deel van die klub se geskiedenis vorm. En jy behoort ten minste een of twee te herken . . .
  • Die klub se eerste oefenveld was destyds waar die Ernst Swanepoelsaal vandag staan. Dit was grasloos, en die “kleedkamers” was waar jy ookal plek tussen die bosse kon maak.
  • Dis eers in 1959 dat hulle met die aanlê van die nuwe velde, waar hulle steeds vandag is, begin het.
  • Ander klubs wou destyds nie op Despatch kom speel nie omdat daar nie ‘n pawiljoen was nie. Die Hoërskool Despatch was seker die eerste – en dalk enigste – skool waar ’n eerste liga wedstryd gespeel is.
  • Die Despatch rugbyklub het in 1972 die bynaam “Pikkewyne” verdien toe hulle met nuwe uniforms van ’n swart trui en wit broek, gespeel het.
  • Die klub het die Grootuitdaag-kompetisie vir die eerste keer in 1977 gewen.
  • Despatch Rugbyklub het in die tagtigerjare geskiedenis gemaak as wenners van die meeste bekers ooit deur ’n klub in die Oostelike Provinsie: hulle spog toe met elf bekers en deel ’n twaalfde met ’n ander klub.

Bron: Despatch Rugbyklub en ’n Eeu van OP Rugby 1888 – 1988 saamgestel deur Willie Muller

Vivian Delport, sekretaris van die Despatch Rugbyklub spog met van die foto’s wat vandag nog in die klub te sien is.

Die datums en ander besonderhede van die verjaardagfees sal nader aan die tyd aan die publiek bekend gemaak word.

Tot dan word mense genooi om die spanne tydens wedstryde te ondersteun. Despatch Rugbyklub het vier spanne hierdie jaar; ’n eerste span, eerste reserwe span, tweede span en ’n onder 21-span. Die o.21’s speel op Woensdae terwyl die senior spanne op Saterdae speel.

  • Hou die UD Express dop vir verdere besonderhede en geskiedenisfeite oor Despatch Rugbyklub.

Die Despatch Rugbyklub oefentye is om 18:00 op Dinsdae en Donderdae.

Kontak die Direkteur van Rugby, Bassie van der Walt, by 062 539 5804 vir meer inligting.

Die klub se saal is ook beskikbaar vir funksies en kan bespreek word met Josua Victor by 083 455 1853.

You need to be Logged In to leave a comment.