AS daar oor die Kohl-broers van Uitenhage gepraat word, bring dit goeie herinneringe, veral vir diegene wat van dans hou want dié broers kón musiek maak en het gesorg dat ’n dansbaan vol bly.
Daar was Leslie, Kenneth, Cedric en Stanley, almal lede van die eens gewilde Sally’s Dance Band. Cedric en Stanley is oorlede, maar Leslie en Kenneth maak nog so nou en dan op hul eie musiek.
As ’n huldeblyk aan die goue jare van Sally’s Dance band het Leslie onlangs ’n nuwe CD bekendgestel, getiteld “Huldeblyk aan Sally’s Dance Band”.
Hy gee ook in dié album erkenning aan mede-musikante Tommy Buys en wyle Sally Arnolds, wat ’n gewilde saksofoon-speler was.
“Ek dra hierdie CD ook op aan elke musikant wat oor die jare saam met ons gespeel het,” sê Leslie.
“Ook aan plaaslike musikante soos Joey Moses, die veteraan van die gewildste musiekgroep in die vroeë 1960s, die Invaders. Joey vermaak nou nog gehore met sy briljante kitaarspel.”
Leslie noem dat langarm (dans) musiekgroepe, waarvan daar vroeëre jare baie op Uitenhage was, nou stil geword het.
“Daar is nog Royal Sounds, die enigste van dié musiekgroepe wat steeds bestaan.”
Deesdae tree Leslie saam met gospelgroepe op en speel graag vir kerke en by fees-geleenthede.
Hy en nog ’n plaaslike musikant, Geoff Taylor, tree by geleentheid saam op én hulle musiek word gereeld op BayFM gehoor. Taylor het onlangs ’n nuwe CD uitgereik met die titel “New Season”.
Die twee gaan op 2 September by die Gesinskerk op Uitenhage optree saam met ander plaaslike gospelsangers uit die omgewing.
- Vir meer inligting oor hulle optredes bel Leslie Kohl by 076 876 4328 en Geoff Taylor 072 174 1633.
– HEILIE COMBRINCK