NOEM die naam Iloreez Goosen en musiek is die eerste gedagte wat opkom. Hoe anders, want vir jare is sy bekend as musiekonderwyser, Kindermusik-terapeut, dirigent, beoordelaar en ook vir haar voortreflike diens in die gemeenskap.
Iloreez Goosen Musiekakademie
Die Iloreez Goosen Musiekakademie se leuse is “Jou Talent my Passie” en dit is inderdaad so, want by dié akademie word daar musiekafrigting aangebied vir die instrumente klavier, klawerbord, blokfluit en kitaar, en natuurlik ook sang.
Konserte word regdeur die jaar aangebied met heelwat voorvertonings vir kunstenaars en optredes tydens spesiale geleenthede.
Staccato Kidz – musiekterapie
Sy het ook die Staccato Kidz op Despatch begin wat ’n terapeutiese musiek- en bewegingprogram is waar kinders se verbeelding op ’n spelender wyse ontsluit word.
Dit is ’n program wat nagevors is met die fokus op breinontwikkeling sowel as spesifiek ook die ontwikkeling van taal, lees, spraak en konsentrasie. Die program stimuleer ’n kind se kognitiewe-, fisieke-, sosiale-, emosionele-, intellektuele- sowel as taal-ontwikkeling.
“Musiek is baie belangrik vir breinontwikkeling en dit is wat Staccato Kidz so uniek maak, want dit fokus op die ontwikkeling van die brein,” sê Iloreez.
Ontsluit kind se verbeelding
“Breinverbindings en -patrone word gevestig en dit laat ’n kind kop en skouers bo hul ouderdomsgroep uitstaan wat nie aan dié terapie blootgestel word nie.
“Dié musiekterapie ontsluit jou kind se verbeeldingswêreld en maak die lewe vir hom of haar ’n lekker avontuur van ontdekking deur musiek, beweging en stories,” sê Iloreez.
In kort bevorder Staccato Kidz konsentrasie, kreatiwiteit en selfvetroue.
Daar is verskillende ouderdomsgroepe waarin kinders aan dié musiekavontuur deelneem, net na geboorte tot 1 jaar; 1 tot 2 jaar; 2 tot 4 jaar; 4 tot 5 jaar en 5 tot 8 jaar.
As musiekonderwyser en -terapeut het Iloreez al verskeie toekennings ontvang vir haar bydrae tot musiek, kultuur en opvoeding.
Sy het by UNISA ’n toekenning ontvang vir Uitstaande Musiekonderrig; ATKV Afrikoon vir Uitstaande prestasies op Musiek- & Kultuurgebied; Rotariër-toekening vir Buitengewone & Voortreflike Diens in die Gemeenskap.
Navrae:
- Vir meer inligting bel Iloreez Goosen by 082 332 6053 of e-pos iloreezg@gmail.com