VERSTOPTE rioolpype weens verminderde watergebruik in toilette, as gevolg van waterbeperkings, het ’n hele paar huishoudings op Despatch in die knyp.
“Daar is regoor Nelson Mandelabaai ’n beduidende toename in verstopte rioolpype,” sê Mthubanzi Mniki, woordvoerder van die Nelson Mandela Metro munisipaliteit.
“Dié toename is toe te skryf aan die feit dat inwoners minder water in hulle toilette gebruik. Dit het tot gevolg dat daar meer vaste stowwe in die rioolsisteem is as water. Gevolglik veroorsaak dit die blokkasies.”
Die woonbuurte Reservoir Hills, Daleview en Bothasrus het die ergste deurgeloop onder verstopte rioolpype waaruit rioolwater stroom en selfs huishoudings het deurgeloop onder rioolwater wat in storte en toilette opstoot.
Volgens Frans Swanepoel van Despatch, is die minder watervloei in die lyne beslis ’n probleem.
“Mense gaan nie minder toilet toe omdat daar waterbeperkings is nie, hulle spoel net minder. So die vaste stowwe is ’n konstante met minder waterdruk,” sê Swanepoel.
“Rioolpype het nie ’n groot val nie. Onder normale omstandighede is ’n munisipaliteit veronderstel om die pype gereeld skoon te maak, maar dit gebeur nie.
“Inwoners van Bothasrus kla oor die stank. As jy riool ruik is dit giftig en gevaarlik,” sê Swanepoel.
’n Inwoner van Bothasrus wat weens mediese redes gereeld die toilet moet gebruik, was genoodsaak om na ’n nabygeleë vulstasie se ablusie te gaan. Vervolg op bl.2