Metro versaak Uitenhage DBV

DIE Nelson Mandelabaai-metro het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Uitenhage einde Junie laas betaal vir dienste wat deur die vereniging gelewer is.


DIE Nelson Mandelabaai-metro het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Uitenhage einde Junie laas betaal vir dienste wat deur die vereniging gelewer is.

Daarby het die DBV net genoeg geld om sy personeel vir die volgende twee weke te kan betaal.

Onlangse geldskenkings is gebruik om agterstallige salarisse van die 14 personeellede en die telefoonrekening te betaal.

“Wat my die meeste bekommer is die salarisse vir ons personeel. Die laaste ding wat ons wil doen, is om mense af te betaal, veral dié tyd van die jaar,” het Deirdré Swift, voorsitter van die Uitenhage-DBV, gesê.

Danksy kosskenkings deur die publiek, skole en besighede het die honde en katte tans genoeg om hul mae vol te hou.

Leander Kruger, ’n DA-raadslid, wou verlede week ’n mosie bring op die Nelson Mandelabaai-metro se raadsvergadering dat die metro die DBV binne die volgende twee weke betaal én ’n nuwe kontrak met ’n dienste-ooreenkoms in die volgende maand opstel.

Indien die mosie nie goedgekeur sou wees nie, wou Kruger vra dat ’n tydelike afwyking onderteken word om ’n tydelike munisipale skut op die been te bring.

“Ek was nog besig om die agtergrond van my mosie voor te lees, toe staan die burgemeester op en keer my,” het Kruger gesê.

Volgens hom sê die burgemeester, Mongameli Bobani, die saak is “opgelos” en die DBV moet sy belastingsake regstel.

Swift sê hulle het reeds twee weke gelede hul belastingsake in orde gekry, maar het nog nie ’n sent van die munisipaliteit ontvang nie.

Bobani het verlede week op Woensdag tydens die Mayor’s Minutes van ’n plaas-like radiostasie gesê die Uitenhage DBV sal teen môre (Vrydag, 14 Desember) betaal word.


“Ons kan nie ’n dier weier nie”

Alhoewel die skut op 6 September gesluit is omdat die munisipaliteit nie betaal nie, kan die inbring van losloper- diere nie geweier word nie.

“Ons kan nie weier om ’n dier te help nie en gaan voort om te doen wat ons veronderstel is om te doen.

“Hoe kan ons ’n dier in nood weier, dit is onmenslik!” het Swift gesê.

“Die ironie is dat die munisipaliteit se hondebeheer-eenheid navrae na die Uitenhage DBV verwys, wetende dat die skut gesluit is.

“Hulle word betaal en het genoeg voertuie, maar verwag dat ons ook hulle werk moet doen. Ons is ongeveer R100 000 in die rooi omdat ons die hondebeheer se werk doen.”

Swift sê dat beide Animal Welfare Society en Animal Anti-Cruelty League in Port Elizabeth weier om losloperdiere op te laai omdat hulle nie betaal word vir dié diens nie.

“Die welsyn van ’n dier behoort belangriker te wees as geld. Ons is almal afhanklik van skenkings, maar geld behoort nie in die pad te staan om ’n dier te red nie. Ongelukkig is dit wat nou gebeur.

“Dit is uiters frustrerend. Ek het eenvoudig nie meer ’n idee wat aangaan nie. Ek weet ook nie meer wat om te glo van die munisipaliteit se kant af nie,” het Swift gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.