Metro plakker-kwessie onbeheerbaar?

Die nasionale regering is besorg oor die huidige tendens van grondbesetting in Nelson Mandelabaai-metro en meen dit skep ’n gevaarlike presedent vir die res van die land.


Die nasionale regering is besorg oor die huidige tendens van grondbesetting in Nelson Mandelabaai-metro en meen dit skep ’n gevaarlike presedent vir die res van die land.

Onwettige grondbesetters het in minder as ’n jaar ongeveer 2 000 plakkershutte in vyf nuwe informele nedersettings dwars oor die Nelson Mandelabaai-metrogebied opgerig.

Inwoners van dié plakkershutte erken hulle beset die grond onwettig, maar sê hulle is desperaat vir ’n huis – én die burgemeester, Mongameli Bobani, het hulle toestemming gegee die dag toe hy gesê het daar sal geen “onwettige uitsettings” onder sy leierskap wees nie.

’n Informele nedersetting by KwaNobuhle, langs die R334, is selfs na hom genoem en staan nou as die Bobani Village bekend.

“Jare lank het die raad nie na ons geluister nie, maar Bobani het en daarom is dit net reg om hom hiermee te vereer,” sê Nompulelo Jacobs, ’n inwoner van die nedersetting.

Bobani Village is waarskynlik die gebied in die metro waar onwettige grondbesetting die vinnigste toeneem.

Bouwerk het in Januarie toegeneem nadat stadsamptenare aanvanklik alle huise afgebreek het om verdere grondgrype te voorkom.

Dieselfde dag het Bobani die ontstoke inwoners se griewe aangehoor en daarna opdrag gegee dat hul boumateriaal aan hulle terugbesorg word sodat hulle hul strukture kan herbou. Hy het ook onderneem om nie verdere uitsettings wat hy as onwettig beskou toe te laat nie. Sedertdien het die metro nog nie weer teen besetters opgetree nie.

Mamkeli Ngam, Oos-Kaapse woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê egter dit is die munisipaliteit se plig om spoedig in te gryp.

Hy wou nie kommentaar lewer oor wat die nagevolge vir die metro sal wees indien hy nie optree nie en sê die fokus moet eerder wees wat sal gebeur as grondbesettings toegelaat word.

“As daar nie opgetree word nie, sal dit net ’n kwessie van tyd wees voor die grondbesetters dienste eis, en vir dié onbeplande behuising se infrastruktuur is daar nie ’n begroting nie.”

Grondgrypers dreig: gaan nie stem

Die kwessie is ook onder die aandag van Babalo Madikizela, LUR vir menslike nedersettings, gebring, het Simthandile Ford, sy woordvoerder, gesê.

Volgens hom het die munisipaliteit Madikizela gerusgestel dat daar wel tans ’n proses is om die situasie te hanteer.

Andile Mfunda, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings in die metro, was egter nie beskikbaar om lig te werp op wat dié proses behels nie.

By navraag oor hoekom die metro nie teen grondbesetters optree nie, het Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, gesê: “Die munisipaliteit ontmoedig grondbesettings. Die munisipaliteit beplan om mense na verskillende diensgebiede te verskuif waar hulle vir huise sal wag. Dit hang alles af van geld aangesien die bou van huise, voorlopig, nie deur die munisipaliteit beheer word nie.”

Hy het nie gereageer op verdere vrae nie.

Ook Xolani Xundu, woordvoerder van Nomaindia Mfeketo, minister van menslike nedersettings se kantoor, het gesê die verantwoordelikheid berus by die metro om dié probleem uit te stryk.

Volgens hom sal die minister, ongeag die omstandighede, nié grondbesettings kan ondersteun nie, en waarsku indien daar nie opgetree word nie sal die metro probleme vir homself en die res van die land veroorsaak.

“Georganiseerde planne vir menslike nedersettings is nodig om in die infrastruktuurbehoeftes van mense te voorsien. Daar sonder kan net probleme en chaos volg,” sê Xundu.

Bobani beloftes

Ten spyte van die grondgrypers se geloof in Bobani om hulle nie van die grond te verwyder nie, dreig hulle herhaaldelik om hul stemme in die komende verkiesing te weerhou.

Bantu Tyamzashe, gemeenskapsleier van die nuwe Emithini Village, oorkant Motherwell, sê hy en die gemeenskap met 300 huise is vol vertroue hulle sal nie van die grond verwyder word nie aangesien Bobani gesê het hulle sal binne vier weke elektrisiteit en water ontvang.

“As dit nie gebeur nie, sal ons voertuigbande brand en die paaie toemaak.”

Op Colchester het plakkershuise tot by die Addo-olifantpark se grensdraad versprei. Tans woon bykans 100 mense in dié gebied, wat as Mandela Village bekend staan.

Langs KwaDwesi, tussen die R75 en R367 en naby Despatch, is daar nou dubbeld soveel plakkershutte as wat daar was toe die munisipaliteit in November hier hutte afgebreek het.

Die besetters het kort voor November stootskrapers gehuur om die grond te ontbos. Nadat meer as die helfte van die beboste gebied skoongemaak is, het die owerhede ingegryp om konstruksiemaatskappye te keer om met die ontbossing voort te gaan.

Inwoners het later die bosse aan die brand gesteek om die gebied verder te ontbos.

Sedertdien het die gebied as die Baywest-informele nedersetting bekend geword.

Nothemba Ndima, wat haarself as ’n gemeenskapsleier voorstel, sê die inwoners was aanvanklik skepties om wéér te begin bou, maar hulle glo Bobani se belofte.

  • Die departement van menslike nedersettings het tussen die 2016-’17- en 2017-’18-boekjaar altesaam 4 255 huise gebou. Vir die huidige boekjaar is 767 voltooi en sowat 55 behuisingsprojekte word beplan.

V SIEN GRAFIKA OP P. 2

You need to be Logged In to leave a comment.