Metro betaal sy skuld aan DBV

Vir die eerste keer in vier maande kan bestuurders van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Uitenhage ’n sug van verligting slaak nadat die Nelson Mandelabaai-metro sy pligte nagekom het deur sy skuld te vereffen.


Vir die eerste keer in vier maande kan bestuurders van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Uitenhage ’n sug van verligting slaak nadat die Nelson Mandelabaai-metro sy pligte nagekom het deur sy skuld te vereffen.

=Deirdre Swift, voorsitter van die DBV in Uitenhage, en die personeel kan weer al hul fokus op diere in nood plaas nadat die metro sy opgehoopte skuld sedert Februarie 2019 vereffen het. Foto: Heilie Combrinck

Die vereniging se bankrekening het verlede week leeggeloop nadat die laaste geld vir salarisse bymekaargeskraap is. Kort daarna het die metro sy opgehoopte skuld sedert Februarie 2019 vereffen.

“Met al die rekeninge wat betaal moet word, sal die geld seker nie lank in die bankrekening wees nie, maar ten minste is die geld inbetaal en kan ek weer rustig slaap,” het Deirdre Swift, voorsitter van die DBV-raad gesê.

Sy sê die geld het eers verlede Donderdagmiddag laat begin inkom.

Die metro het versuim om die DBV vir dienste wat verskaf is te betaal weens ’n administratiewe fout op sy stelsel, sê Swift.

Mtubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, sê die fout is deur hul begroting- en tesouriedepartement raakgesien, waarna ’n proses begin is om dit reg te stel.

Intussen is die DBV se kragtoevoer weens wanbetaling bykans afgesny, sy brandstofkrediet het die limiet bereik, sy telefoonrekening is met donasies betaal en die geld vir salarisse het opgedroog.

“Dit is so ’n groot verligting om te kan sien die geld is inbetaal en ons kan weer met ons werk voortgaan,” sê Swift.

You need to be Logged In to leave a comment.