WANNEER ’n wedvlugduif nie terugkeer na sy of haar hok nie, bly ’n duiweboer wonder wat het met dié duif gebeur?

Verlede week was dit die geval met Eric Bonthuys (75) van die Uitenhage Posduifvereniging. Danksy die oplettendheid en omgee van ’n oud-skoolhoof kon Bonthuys inligting kry oor sy verlore duif.

“My duiwe was op hulle gewone oefenvlug uit, maar dié spesifieke duif het nie teruggekom hok toe nie. ’n Mens wag maar, want die duiwe is soos jou kinders en partykeer kom hulle later tog terug,” sê Bont-huys, ’n duiweliefhebber wat al 64 jaar duiwe vlieg.

Toe kom die oproep, Bonthuys se duif is in Jubilee Park-omgewing opgetel met wonde aan sy lyf. Die duif was dood.

“Die duif is waarskynlik deur ’n roofvoël aangeval want daar was verskeie stukkende plekke op sy lyf. Dit gebeur dat veral valke ons duiwe in vlug aanval.

“Dit bly hartseer. Maar ons duiweboere is die publiek baie dankbaar vir hulle hulp en dat hulle die moeite doen om te probeer opspoor wie se duif dit is,” sê Bont-huys.

Oud-skoolhoof van Dower Practising laerskool op Uitenhage, Daniel Haupt (82) sê hy het die duif in sy erf in Jubileesingel gesien lê en gewonder wat dit makeer.

“Ek het die duif opgetel. Daar was nog so bietjie lewe in die duif.

“Toe sien ek die groen ring om sy poot. Ek onthou toe die duiwe- storie in die UD van die ‘lelike eendjie wat gewen het’ en dog, laat ek uitvind wie se duif is dit dié,” sê Haupt.

Volgens Orgia Nel, wie se man Gert Nel lid van die Uitenhage Posduifvereniging is, gebeur dit ge-reeld dat die publiek duiweboere laat weet van ’n duif wat verlore of beseer is.

“Dit word van duiweboere verwag om hulle telefoonnommer op duiweringe aan te bring sodat hulle gekontak kan word indien ’n duif gevind word,” sê Orgia Nel.

“Ons het ’n fantastiese duif, waarvoor ek baie lief was, teruggekry wat in Port Alfred gaan sak het. Danksy ons telefoonnommer op sy ring kon die mense ons bel.”

Verlede November het Bonthuys ook ’n oproep van iemand gekry wat een van sy duiwe langs die Koedoeskloof-pad opgetel het.

“Dit was ’n jongduifwedvlug en dié duifie van my het waarskynlik in die olie by die Koedoeskloof beland. Die persoon het die duif langs die pad opgetel en my gebel.

“Ons het die duif skoongemaak en sy lewe probeer red, maar hy het dit nie gemaak nie.

“Ek waardeer die moeite wat die publiek doen met ons verlore of beseerde duiwe,” sê Bonthuys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article