Die wiele, vliegtuigskroewe en koppe gaan draai met vanjaar se Wings & Wheels fees wat einde vandeesmaand by die Uitenhage vliegveld aangebied word.
“Dit is tyd dat ons die tempo so bietjie opdraai en meer lawaai maak. So, van twee tot vier wiele, vlerke tot op die verhoog gaan daar genoeg aksie van vroeg tot laat wees,” sê Lourens Kruger, organiseerder van die Wings & Wheels fees.
’n Hele rits nuwighede is deel van die dag se program soos waaghalsspronge met motorfietse en optredes vanaf 17:00 deur be-kende sangers soos Deon Groot, Wicus van der Merwe, Elizma Theron en Snotkop.
“Wat anders is vanjaar is dat dit nie meer ’n lugskou is nie, maar dat vliegtuie van oral af gaan invlieg en uitgestal word. Feesgangers het gesê hulle wil graag naby die vliegtuie kom en met vlieëniers gesels,” sê Kruger.
Vir die eerste keer by die fees kan besoekers ook ritte geniet in ’n ligte vliegtuig, gemotoriseerde sweeftuig en helikopter.
4×4 Nasionale uitdaging
Die 4×4 baan is nog dieper en méér uitdagend gemaak en sowat 60 deelnemers van regoor die land het reeds ingeskryf om aan die nasionale uitdaging deel te neem.
’n Addisionele baan is ingerig vir kommersiële 4×4 voertuie waar bestuurders hulle vernuf kan toets.
“Op die nuwe baan kan mense hulle gewone 4×4 voertuie vir ’n spin vat. Toyota’s kan die Amarokke uitsleep of Ford’s kan hulle altwee uitsleep as hulle nie in ’n Land Rover se olie gly nie,” spot Kruger.
Nog ’n nuutjie by vanjaar se karre-en-vliegtuigfees is ovaalbaanmotors wat ’n paar truuks van dié motorsport gaan wys.
Vliegkuns
’n Asemrowende vliegkuns-vertoning sal deur Patrick Davidson tussen 12:00 en 13:00 gelewer word. Hy sal tydens die vertoning heeltyd per radio met toeskouers gesels en vertel wat hy aanvang.
Davidson is die eerste Suid-Afrikaner wat aan die Challenger Class van die Red Bull Air Race deelneem.
Die 36-jarige internasionale vlieënier was op die ouderdom van 25 Suid-Afrika se jongste vliegkuns-kampioen nadat hy aan die FAI World Aerobatic Championship deelgeneem het.
Die Wings & Wheels fees word op Saterdag, 28 April gehou. Hekke maak 08:00 oop en die gebruiklike optog van allerlei vier- en tweewiele begin om 08:30 by die VW AutoPavilion en sal deur die Caledonian doedelsakorkes by die vliegveld ingewag word vir die amptelike opening om 10:00.
Toegang is R80 vir volwassenes en R30 vir laerskoolkinders terwyl kinders onder 6-jaar gratis toegang geniet.
- Vir meer inligting gaan loer op Wings & Wheels se Facebook blad of bel Lourens Kruger by 082 320 2615.