’n LIGGIESFEES en aandmark word volgende week in Jeffreysbaai gehou ter viering van die komende feestyd.
Dit word by die Nederduitsch Hervormede Kerk in AD Keetstraat gehou vanaf 17 tot 22 Desember.
Die doel van die fees is om die ware boodskap van Kersfees deur middel van beelde, prente en duisende liggies uit te beeld. Liggies sal elke aand vanaf 18:00 tot 22:00 aangeskakel word.
Behalwe vir die liggies kan markentoesiaste uitsien na ’n groot verskeidenheid stalletjies waar daar van handgemaakte ware tot vetkoekburgers, worsbrode, pannekoek, pap en kaiings, spitkoeke en tuisgebroude bier sal wees. Vir die jongspan is daar gesigverf, rekspring, verfbal en ’n springkasteel.
Die EbFlo-blommeklub sal op Maandag, 17 Desember ’n Kersspel met blomme, vers en klank hou. Kaartjies is R50 per persoon. Op 18 en 21 Desember word ’n spitbraai gehou en op 19 Desember sal Menno Mostert en Vriende ’n Kersprogram aanbied. Kaartjies vir die Kersprogram is R50 per persoon. Saterdag, 22 Desember is dit tyd vir ’n potjiekoskompetisie met LuisterFM wat vir die vermaak gaan sorg vanaf 15:00.
- Vir meer inligting bel Anita Jordaan by 072 533 7725.



