LANK voor “Lielie Muis” se geboorte het haar pa, Gertjie de Jager gesê daardie meisie-kind gaan eendag die wêreld verander.
“Lielie Muis” of Leah de Jager is slegs 4 maande oud en is in die neonatale waakeenheid van Dora Nzinga-hospitaal, nadat sy vier weke gelede met die ernstige gekombineerde immuungebrek gediagnoseer is.
Haar ouers Gertjie en Lezaan de Jager van Uitenhage, is nou vasbeslote om na aanlei-ding van die trauma waardeur hulle gaan, mense bewus te maak oor dié immuungebrek.
“Ons kan nie eers vir Lielie ’n soentjie gee nie. Al wat ons vir haar kan doen is om te bid,” sê Gertjie de Jager, gewilde Luister!FM omroeper en sanger.
“Ons lees baie oor ernstige gekombineerde immuungebrek wat gewoonlik as longontsteking manifesteer. Hoe meer ons lees hoe meer wéét ons dat ons met ’n bewusmakingsveldtog moet begin.
“In Suid-Afrika sterf baie kindertjies weens longontsteking, nou wonder ons of dit nie ernstige gekombineerde immuungebrek is wat nie gediagnoseer of behandel word nie?
“In drie state van Amerika is dit wet dat babas by geboorte dié toets moet ondergaan. Dit wys mos daar is ’n ernstige probleem.
“As ons net een mediese raad in die land kan oortuig dat dié toets gedoen moet word, dan sal Lielie Muis die wêreld verander!
“Ons gaan ’n nie-winsgewende organisasie, die Lielie Muis-stigting begin om sulke kinders te help. As ek en my vrou ’n ding aanpak is dit ’n sukses, die Here help ons nog elke keer,” sê Gertjie.
Ernstige gekombineerde immuungebrek (severe combined immunodeficiency/SCID) beteken dat Leah se liggaam nie oor die vermoë beskik om te veg teen kieme, infeksies en bakterieë nie. Sodra haar toestand stabiliseer sal sy na die Rooikruishospitaal in Kaapstad oorgeplaas word vir verdere behandeling
“Leah is oral pers en blou en daar is rofies waar naalde in haar lyfie was. Op ’n stadium was daar nege verskillende binneaarse- voedings aan haar gekoppel. Haar mooi haartjies is afgesny. Dit breek my hart om haar so te sien,” sê Lezaan.
“Weet jy hoe voel dit as dokters hulle skouers optrek en vir jou sê hulle het alles gedoen wat hulle kan en al wat oorbly is om te bid? Dan bid jy en jy glo die Here sal haar genees,” sê Gertjie.
“As Lielie se stryd een mens in die hemel bring of een uit die hel hou, dan is ek gelukkig,” sê Gertjie.
Fondsinsamelings
Daar word tans verskeie fondsinsamelings vir die De Jagers gehou aangesien hulle nie lid is van ’n mediese fonds nie. Die De Jagers was die afgelope vier jaar betrokke by verskeie liefdadigheids-organisasies en nou is hulle aan die ontvangkant.
Lielie Muis se siekte het die gemeenskappe van Uitenhage en Despatch sowel as mense van regoor die land en selfs in die buiteland se harte geraak.
Fondsinsamelings wat plaaslik gehou word sluit in:
.Saterdag, 3 November, Lielie Muis Dans, Danskraal, Uitenhage, 19:00, navrae: Bianca 061 940 5842 of Ronel 083 588 4838.
.Sondag, 18 November, Lielie Muis Familiedag, Innibos kuierplek, 10:00-18:00, Desmond Wells, Deon Groot, Jennifer Zamudio, Klawer, Herman Kleinhans, stalletjies, boeresport, 4×4, navrae: Annelie 083 262 2581 of Charnelle 082 342 8113.
.Biker Fundraising Run for Lielie Muis, Sondag, 18 November, 10:00, Maria Maan, Plot 26, Glyberg Farm, Witteklip, navrae: Lammie 082 932 555 of Scootertjie 084 513 1936.
.Klinicare Pharmacies, fondsinsamelingboekies tans in omloop.
Skenkings kan gemaak word aan:
L De Jager, Standard Bank, account number: 101 0999 1425, branch code 051 001, SUM1 account, swift address: SBZA ZA JJ