‘Lielie Muis’ bring nuwe hoop vir honde

HONDE wat met waaiende sterte en oë vol hoop wag vir ’n nuwe huis vol liefde, se hokke by die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging (DBV) is met helder kleure en muurkuns versier as ’n nalatenskap van Leah “Lielie Muis” de Jager.


Lezaan de Jager, Deirdre Swift (Uitenhage DBV) en Gerrit de Jager in van die hokke wat helder geverf is. Foto: HEILIE COMBRINCK

HONDE wat met waaiende sterte en oë vol hoop wag vir ’n nuwe huis vol liefde, se hokke by die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging (DBV) is met helder kleure en muurkuns versier as ’n nalatenskap van Leah “Lielie Muis” de Jager.

Leah, wat aan ’n gekombineerde immuniteitsgebrek gely het, is op 14 Januarie vanjaar op die ouderdom van ses maande oorlede. Sy het duisende Suid-Afrikaners se harte aangegryp toe die nuus oor haar siekte bekend geraak het.

Fondsinsamelings is regoor die land gehou om haar ouers Gerrit en Lezaan de Jager te help om die mediese kostes te dek.

“Daar was heelwat van dié geld oor wat vir Leah ingesamel is,” sê Gerrit.

“Elke rand was vir haar lewe bedoel. Om dit hier by die DBV te bestee, maak elke rand die lewe werd vir hierdie honde en klein hondjies.

Hierdie is Leah se storie…
Gerrit de Jager

Every story has a story for a story for a reason. Hierdie is Leah se storie,” sê Gerrit.

Lezaan sê projekte soos dié by die DBV bring in ’n mate heling.

“Kinders en diere het ’n sagte plek in mense se harte. Vir my is daar is nie ’n beter plek as om hier te help nie, veral omdat dit met fondse is van ’n kind wat ’n groot impak in mense se lewe gehad het,” sê Lezaan.

Vir haar is daar simboliek tussen die diere in hokke en Leah se lewe wat weens die siekte ook ingehok was.

“Leah is simbolies van elke hok. Sy het ook gewag. Gewag vir daardie een mens om haar lewe te verander.

“Dit is wat elkeen van hierdie hondjies doen. Hulle wag vir iemand se liefde en ’n beter lewe,” sê Lezaan.

Daar is nou drie groot hokke vir die klein hondjies, elke hok het ’n speelplek, vrolike muurkuns en ’n hondehuis as skuiling. Buiten die nuwe draadheinings vir die hokke is daar ook ’n nuwe loopvlak.

Deirdré Swift van die Uitenhage Dierebeskermingsvereniging sê die E en Y blokke is vroeër vanjaar deur inspekteurs van DBV nasionaal uitgewys vir noodsaaklike opgraderings.

Twee weke daarna het die De Jagers “uit die bloute” hulle projek aangebied.

“Ek kon dit nie glo nie, hulle kon nie op ’n beter tyd hier aangekom het nie. Dit is ’n 100% verbetering en die helder kleure en muurkuns skep ’n positiewe atmosfeer. Ons is hulle ewig dankbaar vir wat hulle hier gedoen het,” sê Deirdré.

Die hokke staan nou bekend as: Lielie Muis Wonderland.

“Leah was ’n klein fighter wat wou leef. Hierdie hondjies ook, want hulle bly vasbyt en hoop vir ’n beter lewe,” sê Gerrit.

  • Die De Jagers doen ’n beroep op die publiek om betrokke te raak by die Uitenhage Dierebeskermings-vereniging deur ’n hok aan te neem. Dit kos gemiddeld R12 000 per jaar om ’n enkele hok te onderhou.

You need to be Logged In to leave a comment.