Liefde vir agterpootlose hond

DIT was liefde met die eerste oogopslag … nou kruip Footless elke dag, pens en pootjies, net nog dieper in die harte in van Maxine Slingers en Neil Hansen.


DIT was liefde met die eerste oogopslag … nou kruip Footless elke dag, pens en pootjies, net nog dieper in die harte in van Maxine Slingers en Neil Hansen.

Footless het nie agterpote nie en daar is aanbeveel dat die hondjie eerder uitgesit moet word. Maar Maxine en Neil het hom te lief gekry. Hulle het besluit Footless verdien ’n goeie lewe!

=Footless die 9 maande oue Labrador-Pitbull-kruising sonder agterpote, het ’n tweede kans op lewe gekry saam met Maxine Slingers en Neil Hansen van Despatch. Foto: HEILIE COMBRINCK

Dié 9 maande oue Labrador-Pitbull-kruising kom al die pad van Johannesburg waar sy ma, terwyl sy hoog dragtig was, langs ’n besige snelweg gered is.

“Neil se pa het haar langs die snelweg opgetel. Sommer die volgende dag het sy geboorte gegee aan vyf hondjies,” sê Maxine terwyl Footless styf teen haar sit.

Dié kroos het hondjie vir hondjie blyplek gekry, maar nie die kleintjie met die stompie-bene wat bly wegkruip het nie

“Ons het in Johannesburg gaan kuier en toe ek hoor van die hondjie met sy stompie agterbene, het dit my hart gebreek. Ek het net daar besluit hy gaan saam met ons terug Despatch toe.”

Maxine het besluit om hom Footless te noem, na aanleiding van Toothless in die fliek How to Train Your Dragon.

“Niemand weet wat het gebeur dat sy poot-jies af is nie. Ons was by drie veeartse en al drie sê dit is onmoontlik dat hy so gebore is. Waarskynlik kon sy ma, na geboorte, die pootjies saam met die naelstring afgekou het. Of dalk was dit ’n rot wat sy pootjies afgekou het?” sê Maxine.

As klein hondjie het Maxine-hulle vir Footless spesiale honde-skoentjies met rubbersole aangetrek soday hy nie op sy stompies gly nie. Deesdae hol Footless sonder enige beskerming op sy twee stomp agterbene rond.

“Die een been het al ’n eelt of kussing gevorm waarop hy trap, maar die ander been is stomp af. Dit is dié been waaroor ons bekommerd is, want ons kan sien hy kry seer wanneer hy daarop trap.”

Veeartse stel voor dat Footless prosteses kry wanneer hy volgroeid is.

Neil sê hulle hou Footless dop “en op hierdie stadium het hy baie goed aangepas met sy gebrek.

“Ons was aanvanklik baie beskermend teenoor hom, maar hy is so happy. Wanneer hy volgroeid is en ons sien dat sy stompies te seer raak, sal ons definitief vir hom prosteses kry.”

Elke hond kry sy dag en dié lewenslustige Footless gaan voluit vir die tweede kans wat Maxine en Neil vir hom gegee het.

Hy is gek oor water en sy stompies hou hom glad nie terug om saam met ander honde te speel nie.

Maxine is ’n diereliefhebber en buiten Footless is daar ook ’n papegaai, kuikens, ’n konyn, skaaphond en klein Yorkie. Sy help ook graag waar sy kan by die Uitenhage dierebeskermingsvereniging.

Footless het sy eie Facebook – Footless’ Journey waarop Maxine sy lewensverhaal vertel. Daar is baie foto’s en beeldmateriaal van Footless se woelige tweede kans wat hy in die lewe gekry het!

You need to be Logged In to leave a comment.