HEILIE COMBRINCK
‘n VLIEGDUIF van Despatch, wat niemand op ’n jongduifveiling wou koop nie, is nou aangewys as die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduiforganisasie se algehele beste duif oor alle afstande.
Dié spogduif van Marcelle Els het nie ’n naam nie, net ’n nommer – DP1046/2018 – en Els ken dié duif onmiddellik uit tussen al sy ander duiwe, want hy het ’n oog vir ’n goeie duif.
Volgens Hennie le Roux, ’n bekende in posduifkringe, geskied die posduiforganisasie se beoordeling volgens internasionale standaarde.
“Dit word bereken volgens ‘n koeffisiënt stelsel. Dit geskied volgens die posisie in ’n wedvlug gedeel deur die aantal duiwe in die wedvlug, bereken oor ses wedvlugte,” sê Le Roux.
Els se topduif DP1046 het in die UD Federasie 3 wedvlugte gewen. Op streekvlak, dit is OP Duiwe Unie het dié duif ‘n rekord aantal punte van 662 aangeteken.
“Dit is prestasies wat die meeste duiwe-boere van droom. Die Despatch Posduifklub is baie trots om sulke voortreflike duiwe in hul midde te hê. Welgedaan Marcelle en Zelda,” sê Le Roux.
Els het op 6-jarige ouderdom met duiwe-sport begin en is deesdae voorsitter van Despatch Posduifklub, een van die toonaangewende duiweklubs in die Oos-Kaap sowel as in Suid-Afrika.
Hy is ook die koördineerder van die Nasionale Hok op Despatch.
“Jy moet toegewyd wees tot die sport vir 365 dae van die jaar. Goeie gene, die wil om te wen en ’n passie vir die sport is wat my in die duiwehokke hou,” sê Els.
Volgens hom is daar gesonde kompetisie binne die klub, want dit is ’n klub met goeie duiwe en klomp kampioene.
“Ons vlieg vir ’n handdruk en ’n liefde vir die sport, want geld is daar definitief nie as wenprys,” sê Els.
Niemand wou top duif hê
Interessant is die feit dat duif DP1046 verlede jaar op ‘n jongduifveiling te koop aangebied was. Die hoogste bod was slegs R310.
“Marcelle het die duif teruggekoop. ‘n Mens wonder wat die prys nou gaan wees na die uitstekende prestasies van DP1046,” sê Le Roux.
Els oorweeg dit nog of hy DP1046 aan vanjaar se duiwewedvlugte gaan laat vlieg en of hy hom eerder na die teelhok gaan oorplaas, waar hy sy wengene aan sy nageslag kan oordra en moontlik nog wenners teel.
Dit is Els se 4de prestasie op nasionale vlak. In 2010 was hy 2de beste algeheel in SA, 2015 was hy 3de algeheel sowel beste in SA in middelafstande en sy 2018 prestasie as beste algeheel in die land.
“Duiwelonge” hou Els nie terug
Els is in 2015 gediagnoseer met wat in duiwekringe genoem word “duiwelonge”. Dit is ’n ernstige longsiekte wat veroorsaak word deur die fyn stof wat duiwe afgee. Dokters het aanbeveel dat hy die duiwesport vaarwel moet roep.
“Dít kan ek nie doen nie. My duiwe moet bly vlieg, dit is my lewe!” sê Els