Langste maansverduistering van 21ste eeu

DIE langste algehele maansverduistering van die 21ste eeu sal môre-aand (Vrydag, 27 Julie) wees en Suid-Afrika is een van die lande wat dit sal beleef.


DIE langste algehele maansverduistering van die 21ste eeu sal môre-aand (Vrydag, 27 Julie) wees en Suid-Afrika is een van die lande wat dit sal beleef.

So ’n lang en algehele maansverduistering sal nie weer voor 2100 voorkom nie.

Sterrekundiges het uitgewerk presies hoe lank die maansverduistering sal duur: Een uur, 42 minute en 52 sekondes.

Die totale verduistering sal van 21:30 tot 23:13 duur.

’n Algehele verduistering kom voor wanneer die maan deur die middel van die aarde se skaduwee (umbra) beweeg. Die son, aarde en maan is dan in ’n reguit lyn.

Hoewel ’n maansverduistering soortgelyk aan ’n sonsverduistering is, is die aarde nou die een wat die son verduister en ’n skadu oor die maan gooi. Algehele sonsverduisterings is skaarser.

Die maan het nie lig van sy eie nie en skyn helder omdat sy oppervlak sonlig weerkaats.

Met ’n totale maansverduistering beweeg die aarde tussen die son en die maan in en blokkeer só die sonlig na die maan.

Wanneer dit gebeur, verander die maan se kleure in oranje tot dieprooi en dit word nie heeltemal donker nie.

Verstrooide straling van die son wat deur die atmosfeer beweeg, baai die maan in dié kleure. Dit is dieselfde straling wat ’n sonsondergang rooi maak.

Volgens Space.com sal die maansverduistering so lank wees omdat die maan deur die middel van die umbra gaan beweeg. Meestal is dit so effens na die kant.

Nog ’n rede waarom dit so lank sal duur, is omdat daar ’n apogee is. Dit beteken dat die maan op dié datum op sy ver-
ste van die aarde af is in sy maandelikse wentelbaan.

Volgens die Astronomiese Vereniging van Suider-Afrika (Assa) sal vier planete volgende Vrydagaand met die blote oog sigbaar wees.

  • Venus sal “sak” sodra die verduistering begin. Mars sal baie helder lyk en taamlik naby die maan wees. Dit is heeltemal toevallig dat Mars dan ook na aan die aarde sal wees. Saturnus en Jupiter sal ook sigbaar wees. Die volgende algehele maansverduistering wat in Suid-Afrika gesien sal kan word, is volgens Assa op 7 September 2025.

You need to be Logged In to leave a comment.