sonop hokkie despatch
Enibel Ferreira (links) op die aanval teen die Balmoral-meisieskool van Komani. FOTO: VERSKAF

Hokkie is besig om te blom by die Laerskool Sonop.

Nadat die skool in 2010 ‘n beskeie begin gemaak het deur ‘n o.14-span in die liga in te skryf, spog hy deesdae ook met ‘n o.9A- en B-span, ‘n o.10A- en B-span, asook ‘n o.11A- en B-span.

Die afrigter van die o.13-span, Monique Vosloo, sê hulle is baie opgewonde oor die toekoms van hokkie by die skool.

“Ek is uiters beïndruk met die talent by ons skool en verwag groot dinge van die spelers vorentoe,” sê sy. ‘n Vorige hoof by die skool, Theo Strydom, wou graag hokkie op laerskolevlak blootstelling gee waarop Hanneke Strydom Sonop-leerlinge in 2007 begin afrig het. “Die spelers is vir die volgende twee jaar net vaardighede aangeleer voordat ‘n o.14-span in 2010 amptelik in die liga ingeskryf is. “Vir die volgende twee jaar het ons net die o.14s gehad, maar die sport het skielik só gewild geword dat al hoe meer spanne in ligas ingeskryf is.

sonop hokkie despatch
Enibel Ferreira (links) op die aanval teen die Balmoral-meisieskool van Komani. FOTO: VERSKAF

“Vir die res van die jaar het ons nog net ons ligawedstryde oor asook ‘n reünienaweek-wedstryd by Brandwag.

Hoewel Sonop groot vordering maak, het nog nie een van sy spelers ‘n verteenwoordigende OP-span gehaal nie, maar twee spelers het reeds tot die laaste ronde deurgedring. Dis ‘n duidelike bewys dat Sonop sterk op pad is boontoe. ‘n Oud-skolier, Karista Erasmus, het reeds na skool vir OP gespeel.

Vosloo sê dis opvallend dat die spelers met elke wedstryd beter word soos hulle teen die OP se bestes te staan kom.

“Die Baai het van die beste hokkieskole en ons leer dus baie om teen hulle te speel. “Daar kry ons spelers ook die geleentheid om op ‘n astroturf-baan te speel. Omdat ons nie so ‘n baan by die skool het nie, oefen ons gereeld op gras. Sonop is ook die enigste Afrikaanssprekende laerskool in die Despatch/Kariega-streek wat hokkie speel. Dan het een van ons spelers ook ‘n hokkiebeurs by een van die Baai se gesogte skole gekry,” sê sy.

Sonop het vanjaar reeds aan Framesby se laerskolesportdag en Lorraine se wintersportfees deelgeneem. ‘n Toer is ook na Graaff-Reinet onderneem in die Julie-vakansie waar hulle aan die Anne Beagley Junior Hockey Festival deelgeneem het.

You need to be Logged In to leave a comment.