SING in Harmonie, ’n landswye skoolkoorkompetisie wat deur kykNET aangebied word, is volgende week op Despatch waar plaaslike skole se optredes verfilm word.
Despatch Voorbereidingskool is een van sowat 180 skole in die suidelike-streek (Oos-, Suid- & Wes-Kaap) wat gaan deelneem. Dié skool gaan volgende Woensdag, 13 Junie as gasheerskool optree, waar van die plaaslike deelnemende kore gaan meeding. Dit sluit in die kore van Laerskool Susannah Fourie, Despatch Primêre Skool en Gamtoosvallei Primêre Skool.
“Sing in Harmonie het ’n heel ander aanslag want die kykers se stemme tel. Dit gaan meer oor die genot van deelname en om koorsang te bevorder as oor die fynere tegniese aspekte,” sê Madeléne Sachse, skoolhoof van Despatch Voorbereidingskool.
Die kykNET-span se kameras gaan op 12 Junie rol by Despatch Voorbereidingskool vir die opname van ’n kort bemarkingsinsetsel oor die skool. Elke deelnemende skool sal dié soort blootstelling op televisie geniet.
Die publiek is welkom om die Sing in Harmonie opname op 13 Junie om 18:30 by Despatch Voorbereidingskool by te woon. Kaartjies is R90 per persoon en daar is beperkte sitplek beskikbaar. – HEILIE COMBRINCK