Kulturele prutpot vir kuns op Despatch gehou

LEERDERS regoor Nelson Mandela Metropool en omliggende streke is vir weke reeds besig met die laaste afrondings vir die tweejaarlikse Despatch Kunsfees wat volgende week, van 7 tot 11 Mei, by verskillende skole op die dorp aangebied word.


LEERDERS regoor Nelson Mandela Metropool en omliggende streke is vir weke reeds besig met die laaste afrondings vir die tweejaarlikse Despatch Kunsfees wat volgende week, van 7 tot 11 Mei, by verskillende skole op die dorp aangebied word.

“Die droom van die stigter van die Despatch Kunsfees, wyle Apie Rossouw, was om op eie bodem ‘n kulturele prutpot vir die kunste te skep,” sê Tanya Gerber, ’n organiseerder van die kunsfees.

“Die fees het oor die jare gegroei tot ‘n platform waar oud en jonk die uitvoerende en skeppende kunste kan kom vier. Daar is deelnemers van so jonk as graad R wat ‘n gediggie voordra of ‘n liedjie sing.”

Afdelings vir deelname

Die kunsfees bied van koorsang, klavier- en fluitduette, orkesmusiek tot kunswerke en ’n fotografie afdeling aan.

Deelnemers kom van so ver as Graaff-Reinet, Queenstown, Joubertina en Gamtoosvallei om deel te neem in die sewe verskillende afdelings, naamlik voordrag, vokaal, klavier, blaas- en strykinstrumente, kuns, fotografie asook dans.

Beoordelaars

Die beoordelaars vir die afdelings is: dr. Erika Bothma – klavier; dr. Erna Cloete – strykers en blaasafdeling; Lionel van Zyl – vokaal; Marlene Pieterse, Luana Bester & André Crous – voordrag; Anneke Basson – fotografie; Llise Dodd – beeldende kunste.

Kuns- en musiekliefhebbers word uitge-nooi om gratis die kunsfees gebeure by te woon. ’n Prestige-aand word op Dinsdag, 22 Mei om 18:30 by Hoërskool Despatch aangebied waar van die uitstaande deelnemers sal optree.

By hierdie geleentheid sal daar toekennings gemaak word aan uitblinkers in elke kategorie. Toegang is R20 per persoon.

  • Vir verdere inligting skakel Tanya Gerber by 084 919 5309.- VERSLAGGEWER

You need to be Logged In to leave a comment.