WIE ken nie vir Tommie Thompson nie? Dié bekendste pratende pop wat so styf sit teen die sy van die legendariese buikspreker en kul-kunstenaar Jannie de Bruin!
En dan sluk dié buikspreker nog ’n swaard ook … definitief iets om te sien!
De Bruin en sy Tommie sowel as Jackie Jackson “pratende poppe” is op Saterdag, 2 Maart om 18:30 vir 19:00 by die Ernest Swanepoelsaal op Despatch te sien.
“Huisgenoot het x-strale laat neem terwyl Jannie die swaard sluk, so dit is nie ’n klug nie,” sê Eugene “Proppie” Barnard, organiseerder van die vertoning.
“Die vertoning is uit-en-uit vir die kinders, maar ek weet ’n hele paar volwassenes wat vir Tommie onthou, gaan ook wil kom kyk hoe gaan dit nou met hom.”
De Bruin was 20 jaar laas op Despatch.
Hy en sy poppe tree sedert 1961 op en was deel van verskeie bekende konsertgeselskappe sowel as tele-visie-reekse.
De Bruin en sy vrou, Zurika, behou saam die rekord as die egpaar wat vir die langste aaneenlopende tyd, 18 jaar, die amptelike Suid- Afrikaanse kulkuns-kampioene is.
Maar voor die gehoor aan Tommie se lippe gaan hang, sal die Silwersnare Boeremusiek-orkes eers sorg vir ’n paar gewilde treffers. Dié orkes gaan vir 30 minute die gehoor vermaak.
Die Silwersnare se “Warm Patat” vastrap is tans no. 7 op Luister!FM se ranglys.
NGK De Mist met ds. Christo Stümke sal sorg vir die aand se verversings, terwyl ’n gedeelte van die kaartjieverkope se fondse aan NGK Retief op Despatch gaan.
De Bruin gaan op Vrydag, 1 Maart met Tommie en Jackie ’n draai maak by Laerskool Winterberg om daar met die kinders te gaan gesels.
Kaartjies vir Jannie de Bruin se vertoning is R40/kind, R40/pensionarisse en R80/volwassene en is beskikbaar by Despatch Deli en by Daniels Service Station in Mosel op Uitenhage of by die deure.
- Vir meer inligting oor die vertoning bel Eugene Barnard by 084 016 6843.