“MOOIWEES was nog nooit so maklik nie en elkeen van ons verdien ‘n spieëlbeeld wat vir jou knipoog.”
Só sê die Glam Guru, Hannon Bothma, wat onlangs by Hoërskool Despatch se jaarlikse Damestee opgetree het.
Vroue wat die tee bygewoon het beskryf Hannon as “‘n mens met ‘n hart van goud – ‘n omgee mens.” Vrae uit die gehoor is spontaan deur hom beantwoord en hy het vir elke gas tyd gemaak, of dit nou vir advies en of net ‘n foto saam met hom was.
Dit was die skool se vierde jaar wat hulle dié damestee aanbied en met Hannon as gas het hulle ’n rekordgetal bywoners gehad, ’n totaal van 490 gaste.
Die gasvrouens was die steunpilare van die glansgeleentheid en die organiseerders sê baie dankie aan hulle en alle medewerkers vir die gees waarin hulle die geleentheid met sukses aangepak het.
Die hoofborg, Klinicare Apteek-groep, het gesorg dat dié fondsinsamelingprojek ’n groot sukses was.
Organiseerder bedank ook graag al die borge vir hulle bydraes.-VERSLAGGEWER