DIE groep stappers wat ’n reuse houtkruis van 2.3 meter lank, met ’n wiel aan die voorpunt, op paaie in die Oos-Kaap stoot, beplan om vanjaar ’n hele paar projekte aan te pak.
Eerste op die lys is ’n roete deur Thornhill, Gamtoosvallei en Jeffreysbaai, waarna hulle na die Mighty Men konferensie gaan wat van 8 tot 10 Maart buite dié kusdorp gehou word.
“Die roete is nie so ver nie, maar die impak wat dié houtkruis met elke evangelie-staptog op mense se lewens het, is verrykend,” sê Heinrich Basson, ’n Uitenhage brandweerman en kruisstapper.
“Ons het in 4 jaar se tyd al so 1 800 kilometer agter die rug met dié kruis en baie lewensveranderende ervarings en ongelooflike getuienisse op dié togte beleef.”
Dié projek staan bekend as 352 Walk for Jesus en was die inisiatief van pastoor Marius Swanepoel van VEK Ebenhaezer op Uitenhage, in samewerking met Basson, wie die 22kg sware kruis gemaak het.
“Die eerste wiel is gedaan gestoot. Hierdie een is besig om nou lekker glad te raak, maar hoe gladder hoe makliker stoot die houtkruis.
“Ons is 10 manne wat in aflos-spanne stap en vanjaar stap daar ook vroue saam met ons. Die jongste stapper is 7-jaar oud, klein Katelyn Bothma.”
Op hierdie staptogte word daar Bybels aan gemeenskappe uitge-deel. ’n Beroep word op die publiek gedoen om ’n fondsinsameling te ondersteun om klein Bybeltjies aan te skaf.
Die Gideons sowel as die Bybelgenootskap ondersteun dié kruisstaptogte. As deel van fondsin-smelingprojekte is daar klein plastiek-pilhouertjies waarin R2 en R5 muntstukke presies pas. As die publiek die R2 houertjie vul kan een Bybel daarmee gekoop word en as die R5 houertjie gevul word kan twee Bybels gekoop word. Dié houertjies is by Basson beskikbaar.
“Ons het al so 2 000 Bybels in die 4 jaar uitgegee. Dit was moontlik danksy privaat donateurs se ondersteuning.”
Een van die vroue wat vanjaar deel is van die groep, Ronel Bothma sê, “As jy die kruis vat gebeur daar iets met ’n mens. Dit is nie ’n maklike gelykpad nie, die bulte maak jou gedaan, maar jy wil nie die kruis neersit nie. Dit is asof jou gebede krag kry. Dit maak regtig ’n verskil, ek het dit beleef!”
Basson sê dit is ’n taai uitdaging, maar hou jou nederig.
“Ons is soos donkies vir Jesus, dit gaan nie oor ons nie, in nederigheid wil ons dat die mense die simbool van die oplossing vir soveel l ewenskrisisse sien,” sê Basson.
Die kruisstappers se volgende missie is om plaasgemeenskappe te bedien en dan om ’n reuse kruis by Rooihoogte op te rig.
- Om pilhouertjies te vul vir Bybel-donasies bel Heinrich Basson 076 383 6578. by of Adri Basson 071 855 8265.