DESPATCH Krieketklub kan daarop roem dat ’n hele paar internasionaal bekendes in die sportarena eens op dié klub se velde krieket gespeel het.

Dit sluit in bekendes soos Danie Gerber wat beskou word as die wêreld se beste senter ooit, Rudi Koertzen wat die wêreldrekord hou as skeidsregter wat by die meeste een-dagwedstryde opgetree het en voormalige Protea-kaptein Johan Botha.

’n Nuwe klubbestuur is onlangs aangewys en onder aanvoering van Rudi Koertzen junior as die president wil die bestuur die krieketklub weer as ’n gerekende klub vestig.

“Die kompetisie is baie sterk en oefeninge begin September. Intussen fokus ons om ons fasiliteite ekonomies te bedryf en daarom is ons klubhuis opgeknap en nou daagliks oop vir die publiek,” sê Rudi Koertzen junior.

Gesellige klubkuiers

’n Steakbraai is verlede Saterdag aangebied as die afskop vir dié planne en daar gaan verskeie gesellighede in die toekoms aangebied word. Die klubhuis is tot die beskikking vir privaat funksies en sport kan op grootskerm daar gekyk word.

Despatch Krieketklub se 70ste bestaansjaar word in 2019 gevier en na verwagting gaan dit ’n groot saamkuier wees wat hopelik deur verskeie van die bekende sportmanne bygewoon gaan word wat eens op dié veld vir die klub uitgedraf het.

Daar word dikwels na Despatch as ’n “sportmal-dorp” verwys. Hoe anders want nog voor Despatch ’n onafhanklike munisipaliteit in 1945 geword het, was daar reeds in 1943 ’n rugbyklub. Op dié stuk openbare grond moes die beeste eers verjaag word voordat daar ge- oefen of ’n wedstryd gespeel kon word. Die Despatch Rugby Laer is in 1949 gestig en fasiliteite is ook gebruik vir krieket.

Krieketklub – tuiste vir sportmanne

Die Despatch Krieketklubhuis is in 1989 gebou deur plaaslike sakeman Julian Hancke, ook ’n voormalige president van die klub. In sy termyn het Hancke nie alleen gesorg dat kwaliteit spelers aansluit nie, maar hy het ook die klub tot nuwe finansiële hoogtes bestuur. Vandag nog staan die twee kleed- kamers bekend as die Rudi Koertzen en Tony Muller kamers.

Johan Swanepoel was vir meer as ’n dekade president van die Despatch Krieketklub. Hy sê die klub was ’n tuiste vir veelsydige sportmanne en het “uitmuntende krieketspelers en -skeidsregters opgelewer en heelwat uitstekende rugbyspelers wat ook briljant op die krieketveld was. Dan is daar nog ’n hele klomp ouens wat krieket gespeel het en vandag redelike goeie gholfers is.”

Despatch Krieketklub is bevoorreg om een van die wêreld se beste krieketskeidsregters ooit as ere-president te hê. Rudi Koertzen was in 2006 slegs die tweede skeidsregter ter wêreld wat by 150 toetswedstryde opgetree het. Die ander wêreldklas krieketskeidsregter wat Despatch opgelewer het is Brian Jerling.

Outyd se “hardegat” spelers

Nog ’n voormalige president van die klub, Jannie Kemp, sê die klub het ’n ryk geskied-enis en is propvol staaltjies van die dae toe dit nog “hardegat manne met ’n goeie gesindheid was wat hier gespeel het.”

Krieketspelers moes glo self eers die krieketblad en veld versorg voordat daar gespeel kon word.

“Waar in jou lewe het jy gehoor dat ’n krieketblad gebrand word? Na hewige reën was die blad baie nat en toe besluit Tony Muller en Willem Oliphant om petrol op die blad te gooi en dit aan die brand te steek om dit droog te kry. En hulle het wraggies daarna gespeel!

“Ou Vasco Ferreira, die grondeman, het tien gaskets geblaas toe hy dit sien. Hulle het die blad heeltemal opgeneuk,” sê Kemp.

Hy vertel ook van die ferm hand van ’n vrou en ere-president Myra de Wet oftewel Ma de Wet, “’n mens wat die manne byme- kaar gehou het op ’n ordentlike en ’n mooi manier.”

Daar was ’n insident waar spelers te veel padstoppe gemaak het om hul dors te les op pad na Humansdorp vir ’n wedstryd. Gevolglik was hulle veldwerk hopeloos en dit het hulle die wedstryd gekos.

“Ek en Myra moes ’n tugverhoor hou, ek was mos ’n aanklaer in my dae en ons kon nie toelaat nie dat die manne ons klub se naam ‘gat’ maak nie. Ma de Wet het gesê waarsku net, maar ek het hulle geskors vir ’n maand.

“Toe kom een van die spelers wat geskors is – oorlede George van Greunen – na my en sê ‘aag oom Jannie ons is nou skuldig, maar kom ons gaan maak ’n dop!’”

You need to be Logged In to leave a comment.