HULLE noem hom Krakeel, maar hy kon netsowel Blits, Bugatti Veyron of Sputnik wees want niemand keer of hardloop vir dié jongman weg op die rugbyveld nie.
Sy regte naam is Juliano Botha en hy sorg dat Uitenhage se Progress Rugbyklub-ondersteuners heeltyd op hulle voete bly. Die bynaam Krakeel kom saam met hom uit die Langkloof, waar hy in 1996 op dié klein appel-dorpie gebore is.
“Krakeel is spoed se baas. Hy is besig om vir homself groot naam te maak met sy uitstekende en blitsvinnige spel. Sommer in sy debuut-wedstryd vir Progress teen Jeffreysbaai het hy drie drieë gedruk,” sê Kosie Basson, president van Progress Rugbyklub.
“Spoed en sy side steps is beslis sy sterkpunte. Hy gaan definitief nog groot hoogtes bereik en ons is trots om hom in ons klub te hê.”
Dié 21-jarige rugbyspeler wat met nommer 11 op sy rug tuis voel op die veld se rolmodel is die Australiese heelagter Israel Folau.
Volgens Basson is Progress geseën met ’n hele paar goeie spelers, maar hulle word deur ander rugbyunies “opgeraap”.
“Dit is eintlik vir ons ’n kompliment, want op klubvlak ontwikkel ons goeie talent en die klub is bekend daarvoor. Dit is danksy die uitstekende afrigting wat die klub bied,” sê Basson.
Krakeel het in 2016 na Uitenhage verhuis om sy naskoolse studies voort te sit by Eastcape Midlands College. Hy het eers verlede jaar by Progress, een van die Oos-Kaap se top rugbyklubs aangesluit. Hy doen tans sy indiensopleiding by die Uitenhage Provinsiale Hospitaal.
Krakeel speel nie net droomrugby nie, hy droom ook rugby en sy grootste droom is om eendag vir die Springbokke uit te draf!