“DIT is wow … as ons vra is dit net jip, jip, ja, dis reg … ons kom!”
As uitnodigings na ’n Koppie vir Kansa-geleentheid só beantwoord word wys dit vir jou hierdie gemeenskap se harte klop vir die regte sake.
“Ons het gedink, hmmm … dit is so bietjie van ’n tolorder want hierdie tyd van die jaar is daar baie funksies. Maar ons was aangenaam verras oor die mense se reaksies,” sê Nadia Stoltz, mede-eienaar van Sjiek Shack, ’n kuierplek en geskenkewinkel in Algoaweg tussen Uitenhage en Despatch.
Toe Marius de Vries, organiseerder van Koppie vir Kansa (Cuppa For Cansa) die vroue van Sjiek Shack nader vir ’n fondsinsamelingtee ten bate van die Kanker- vereniging van Suid-Afrika, het die wiele vinnig spoed gevat en binne twee dae was al die tafels so te sê vol!
“Die tema is Hoop. En ons gaan dit ’n lekker kuier maak.
“Vroue kan hulself hier kom geniet met die verversings en ’n oggendprogram wat nie net propvol hoop gaan wees nie, maar ook kos vir die siel,” sê Marlise Willemse, die ander eienaar van Sjiek Shack.
Gasvroue hoef nie enige verversings voor te berei nie, maar moet net sorg dat hulle vriendinne die oggend saam kom kuier. Sjiek Shack sorg vir al die lekker eet- en drinkgoed. Daar sal ’n verskeidenheid pryse te wen wees soos onder andere ’n wegbreek-naweek, fotosessies as-ook heelwat geskenkbewyse.
Chanel Wink gaan sing, kanker-oorwinnaar Hazel Swanepoel gaan met die vroue gesels en jong Anske le Roux wat met leukemie gediagnoseer was gaan ’n kers van hoop aansteek.
De Vries gaan oor Kansa gesels, ’n nie-winsgewende organisasie wat met behulp van vrywilligers kankerpasiënte sowel as hulle families bystaan en bewusmakingsveldtogte doen.
Fondse word ingesamel vir onder meer die verskaffing van prosteses en pruike vir kankerpasiënte. Kansa het ook ’n mobiele kliniek wat gemeenskappe in plattelandse areas besoek.
“Kanker raak ons almal. Daar is skokkend baie mense wat ons ken wat kanker het en van ons vriende wat gesterf het weens kanker. So, ons het nie eers twee keer gedink om die Koppie vir Kansa aan te bied nie. Ons het sommer dadelik gesê, ja!” sê Marlise.
- Die Koppie vir Kansa by Sjiek Shack word op 17 November om 11:00 gehou. Kaartjies is R180 per persoon. Vir meer inligting bel 071 683 2216 of 082 303 6471.