DIE eens sterk flank wat vir rugbyspanne van die Sharks Akademie en Kings op die veld gedraf het, is verlam na ’n motorfietsongeluk, maar hy droom nou oor deelname aan paralimpiese sport.
Cornelius van Vuuren sê sy lewe het nie opgehou nie, dit het net verander met baie nuwe uitdagings.
“Dit is nou hoe dit is. Ek is ’n parapleeg, maar pas aan en leef wéér voluit. Watch my, ek gaan nog mét my rolstoel Despatch toe ry om by my ouers te kuier,” sê Cornelius (28) van Uitenhage.
Op ’n reënerige skemeraand na werk op 13 April vanjaar, was Cornelius met sy blou Kawasaki Ninja ZX 14 motorfiets betrokke in ’n ongeluk in Daniel Pienaar-rylaan. Hy het verskeie beserings opgedoen, maar dit was die T8-ruggraatbesering wat sy drome in ’n ander rigting gestuur het.
Gedurende sy hersteltyd was hy in Aurora en skaars drie maande later is hy nou by sy Van Riebeeckhoogte-huis.
“My pa het my huis aangepas vir my rolstoel. Nou wil ons ’n paar oefenapparate inrig. Ek wil aanhou oefen want ek dink daaraan om soos Alwyn Uys, ook aan handfiets-wedrenne te begin deelneem,” sê Cornelius.
Alwyn Uys was destyds saam met Cornelius by die Sharks Akademie en is ook ’n parapleeg na ’n motorongeluk. Alwyn het vanjaar geskiedenis gemaak as die eerste parapleeg wat ’n Ysterman-kompetisie klaargemaak het.
Cornelius het vir Brandwag se eerse rugbyspan gespeel, was ’n Cravenweek-speler en provinsiale atleet. Nou wil hy begin oefen om weer aan sport deel te neem, hierdie keer as parapleeg.
Biggy & kie. by konsert Innibos
Om mediese onkostes te dek sowel as on-kostes om sy leefwêreld rolstoel-vriendelik te maak, het sy suster Geraldine van Vuuren, ’n fondsinsameling-konsert gereël.
“Vroeër het ons twee soms koppe gestamp, maar toe ek hoor van sy ongeluk, het ek my werk in Kaapstad bedank en besluit ek wil hier wees vir my broer,” sê Geraldine.
“Die sangers het almal dadelik ingestem om op te tree. Dit is ongelooflik om te sien hoe mense wil help. Ons is baie dankbaar vir al die ondersteuning.”
Op 27 Julie vanaf 09:00 gaan verskeie gewilde plaaslike sangers by Innibos optree ten bate van Cornelius. Onder dié sangers is Biggy, Loufi, Monique van Driel, Ru-Ann Wentzel, Gerhard Pace, Pink Lipzz, Kobus & Karla, Vernon Benecke en nog ’n hele paar ander sangers. Daar sal ook stalletjies wees en baie gelukkige trekkings.
- Vir meer inligting bel Jerry 084 996 1187.