Kompos-boelies se duur verkoopstruuk

DIE polisie op Uitenhage waarsku die publiek om nie kompos by straatverkopers, wat met ’n bakkie in woonbuurte rondry, te koop nie.


DIE polisie op Uitenhage waarsku die publiek om nie kompos by straatverkopers, wat met ’n bakkie in woonbuurte rondry, te koop nie.

Volgens polisiewoordvoerder kaptein Gerda Swart, bestaan die komposverkopers uit ’n groep van 4 tot 6 mans wat intimiderend en aggressief oorkom.

“Hulle teiken veral vroue. ’n Drom kompos word tussen R120 en R160 verkoop, maar wanneer hulle dit aflaai, laai hulle tot 10 of meer dromme se kompos af en eis dan die geld,” sê kaptein Swart.

Voorvalle van dié kompos-boelies is reg-oor Nelson Mandelabaai aangemeld. In die mees onlangse voorval verlede Vrydag, 16 November, was ’n vrou in Penford die teiken van die groep kompos-boelies.

“Ons versoek die publiek om versigtig te wees om transaksies met straatverkopers aan te gaan. Besoek eerder ’n kwekery of bestaande besigheid wat wettig bedryf word,” het kapt. Swart gesê.

In ’n voorval in Sherwood het ’n man be-taal vir een drom kompos, maar toe hulle dit aflaai het hulle tussen 10 en 15 dromme op sy grasperk uitgegooi. Hulle weier om die oortollige kompos terug te laai en dring aan op die volle betaling.

“Hulle werk baie vinnig om die kompos uit te gooi en laat hulle nie keer nie. Die publiek moet versigtig wees vir wie hulle toestemming gee om op hulle perseel te kom. Dit kan jou in ’n finansiële verknorsing plaas,” het kaptein Swart gesê.

-HEILIE COMBRINCK

You need to be Logged In to leave a comment.