Komberse vir projek teen koue

Midwinter met sy snerpende koue is oor 15 dae hier en dan is dit tyd vir die snoesige winterwolle.


Midwinter met sy snerpende koue is oor 15 dae hier en dan is dit tyd vir die snoesige winterwolle.

Maar vir haweloses sonder basiese be-skerming soos ’n kombers, warm klere of skuiling, is die ysige winternagte ekstra lank. Sommiges sterf selfs weens verkluiming.

In hierdie yskoue periode kry jy egter mense soos Monique Gerber, verkoopsver-teenwoordiger by Toyota Automark Uitenhage, met ‘n hart vir die haweloses.

Sy pak die einde van die maand ’n Koue-projek aan om kos en warm klere aan haweloses op Despatch en Uitenhage uit te deel. Die eerste keer toe Monique as deel van die maatskappy se Knights-projek haweloses besoek het, was sy geskok oor die groot getal mense wat die winterkoue sonder beskerming moet trotseer.

“Dit is verskriklik. Die nood is groot daar buite. Dis hartseer om so baie kinders te sien swaarkry in die koue.”

Maar Monique glo enige mens kan help om ‘n verskil te maak. “Al wat nodig is, is om wat jy doen, uit jou hart te doen omdat jy glo in hoop. Deur kwaliteit tyd te spandeer met iemand wat behoeftig is, maak ’n groot verskil in so ’n mens se lewe.”

As aspirant-Knight gaan Monique die sop en brood self verskaf, maar sy het gewillige hande nodig om haar te help om dit uit te deel.

Sy doen ook ‘n beroep op die publiek om warm klere en komberse te skenk.

“Bring asseblief vir my daardie ongebruikte komberse en goeie gebruikte warm klere. Sê vir my jy wil saamgaan om te help. Saam kan ons ’n groot verskil maak.”

Ricky Pillay, Toyota se Oos-Kaap sake- en verkoopsbestuurder, sê die doel van die Knights-projek is om erkenning te gee aan individue wat buite hul normale werksverpligtinge presteer deur in hul gemeenskap ’n positiewe bydrae te lewer en sodoende ook die handelsnaam uitdra.

“Monique is absoluut toegewyd en altyd gewillig om haar vaardighede op te skerp en ’n verskil te maak. Ek wens haar sukses toe met haar projek,” sê Pillay.

Monique sê haar pa se lewensleuse tot op sy sterfbed was, “elke dag is ’n dag vol geleenthede,” en dit is die leuse wat sy wil voortleef.

Sy het ook haar kollega Dewald Oelofse bedank.

“Wat hy vir die gemeenskap doen, is vir my ’n inspirasie. Vir sy volgehoue toewyding het ek baie respek.”

As jy hierdie winter die lewe van ’n hawe-lose wil help beter maak, bel Monique by 083 393 6069. Skenking kan afgegee word by Algoa Toyota Uitenhage, Caledonstraat 140. Sy sal dit ook kom afhaal.

Monique se Koue-projek is op Saterdag-nag, 29 Junie. Almal wat wil help uitdeel, moet om 20:30 by die Shoprite parkeerarea in Despatch byeenkom. Omdat Despatch Monique se tuisdorp is, gaan sy eerste hier die sop en brood, komberse en klere vir die haweloses uitdeel en dan na Uitenhage gaan.

  • Lees meer oor die Koue-projek op Facebook by Ask Monique G.

You need to be Logged In to leave a comment.