Die liefde vir kinders, is die grootste rede hoekom twee stigterslede van ’n kleuterskool op Uitenhage, na 30 jaar stééds volstoom betrokke is by grondslag- fase-onderrig.
Pierie Wierie Kleuterskool & Nasorg het in April 1988 sy deure oopgemaak met Eileen Bekker en Hester Erasmus (nou Drotsché) aan die stuur van sake. Daar was toe 12 kind-ers in die klas. Die twee vroue is tot vandag toe vuur en vlam vir opvoeding en die dryf agter dié kleuterskool.
“Ek kom uit ’n familie propvol onderwysers. My ma, Paddy Swanepoel, was my mentor. Sy het destyds met ’n skool vir gestremde kinders begin hier op Uitenhage. Dié skool het later jare ontwikkel tot Drostdy Werkplek soos ons dit vandag ken,” sê Eileen.
Paddy was vir 21 jaar die hoof van die skool en het ook die gesogte Rotariër De Mist-toe-kenning ontvang vir haar rol in die gemeenskap, veral ten opsigte van haar betrokkenheid by gestremde kinders.
“Destyds toe my ma haar skool moes opgee kon ek nie verstaan hoekom sy so emosioneel was nie. Ek’t vir haar gesê dis net ’n skool, maar vandag verstaan ek hoekom sy so gevoel het. Ek voel presies dieselfde oor Pierie Wierie, want dit is my baby wat nou al dertig is.
“Na my ma se aftrede het sy haar glyplank wat by haar skool was vir my gegee. Net daar het ek besluit ek wil ook ’n skooltjie hê. En dit was die begin van Pierie Wierie hier in Carinus-rylaan.”
Drie dekades later spog Eileen nie net met haar ma se oorspronklike glyplank op haar speelterrein nie, maar ook met ’n rondom- talie, die enigste op Uitenhage by ’n kleuterskool.
Paddy het destyds vir Eileen en Hester gehelp met die uitwerk van ’n kurrikulum.
“Ons lag nou nog, want toe ons twee begin het, was ons binne ’n halfuur klaar met die dag se werk. Dit moes ons vir vier ure besig hou! My ma sê toe, as daar tyd oor is laat die kindertjies toilet toe gaan. Toe sê ons, ons het hulle seker twaalf keer laat gaan en hande was en alles!
“So stupid was ons in die begin, maar mens leer mos vinnig uit jou foute en dinge was gou perfek volgens plan.”
Pierie Wierie is ’n multikulturele skool en bied ook nasorg vir graad 1 tot 7 leerders van Handhaaf aan. Daar is tans 65 leerders wat in die middae by Pierie Wierie vir nasorg inboek.
Pierie Wierie het 8 kleuters (3-4 jariges), 8 kinders in graad RR (5-jariges) en ook ’n pre-primêre klas met 15 kinders. ’n Span van 7 personeel is betrokke by die onderrig.
Die kleuterskool en nasorg is geregistreer by die departement van onderwys en volg ook hul kurrikulum.
“Baie, baie liefde vir die kinders en baie, baie geduld is nodig om ’n kleuterskool met sukses te bedryf.”
Eileen sê ’n kind bly ’n kind, maar oor drie dekades het omstandighede baie verander.
“Die Here het vir elke kind ’n pa en ma gegee. Die Here het goedgedink dat die ouers ’n kind moet lei, maar nou lei die kinders die ouers.”
Tog sê Eileen, sal die liefde vir kinders, deeglike opleiding, dissipline en baie geduld altyd die resep bly om ’n kind te laat gedy in sy of haar opvoedingsperiode.