’n KLEUTERSKOOL in Reservoir Hills, Despatch, het vir die eerste keer in die skool se 28 jaar van sy bestaan, die teiken geword van herhaalde inbrake.
Diana Isaacs, prinsipaal van die Kleingoet-land in Ooievaarsingel sê, “Ons weet dit is ’n groep wat ingebreek het want Atlas se sekuriteitsmense het gesê al die alarm-ogies was gelyktydig geaktiveer. So, dit wys daar was beweging in al die vertrekke van die skooltjie.”
Daarby het ’n ooggetuie aan Isaacs vertel dat sy ’n groep seuns by die skoolheining ge-sien het.
“Ons doen ’n beroep op ons gemeenskap om saam te staan en die onheil uit te werk. Dit is tyd dat ons hier ’n buurtwag stig, ons lewens word ontsier deur mense wat steel en ander skade aanrig,” sê Isaacs.
Volgens Nella Jonker, ’n onderwyser by die skool, het die eerste inbraak op ’n weeksdag omtrent 03:45 gebeur.
“Hulle het in die agterste klaskamer ’n houtvenster heeltemal uit die muur gehaal om in te kom. Hulle het al ons kos, die dvd-speler en ’n waaier gevat en wou die televisie ook vat maar kon dit nie deur die venster kry nie,” sê Jonker.
Twee dae later, omstreeks 03:50 is daar wéér by die kleuterskool ingebreek en toegang is verkry deur die deur oop te breek. Dit nadat daar teen 01:00 by die naburige kliniek ingebreek is.
“Die slag het hulle die televisie, die mikrogolfoond en ons onkruidsnyer gevat. Gelukkig het die polisie die televisie in ’n trollie gekry en die oond was in ’n drom gegooi,” sê Jonker.
Kleingoetland is ’n nie-winsgewende organisasie en word deur die gemeenskap bestuur.
“Hier is nie geld nie, ons wag elke maand vir daardie stukkie fooitjie wat inkom. Daarmee sorg ons dat die kinders kos kry en ordentlike opvoeding.
“Die plek is die gemeenskap se plek. Dit is hulle kinders wat ons hier opvoed. Ons gee vir die kinders die grondlegging van opvoeding. Daarom voel ons die gemeenskap moet saamstaan teen misdaad,” sê Jonker.
Polisiewoordvoerder kaptein Gerda Swart het bevestig dat daar ’n saak by die Despatch polisie gemaak is van die inbraak by ’n besigheidsperseel en dat dit ondersoek word.