KLEUTERLAND Bewaarskool, een van die oudste bewaarskole in die Nelson Mandela-metropool, se 40ste bestaansjaar word hierdie naweek op Despatch gevier.
Die bewaarskool is in 1979 gestig deur Despatch se NG-kerke met die doel om werkende ouers te help met die versorging van hulle kleuters. Na 40 jaar is die skool steeds ’n gewilde plek waarheen kinders vir voorskoolse onderrig en nasorg gestuur word.
Skoolhoof Danita Ferreira wat sedert 1999 by dié bewaarskool is sê: “Daar is baie kind-ers wat nou hier is wie se ouers ’n paar dekades gelede ook hier by Kleuterland was.”
Kleuterland sien om na babas vanaf 3 maande tot en met 5-jarige kinders wat ge-reed is om na graad RR te gaan.
“Ons wenresep is omdat ons glo aan liefde en aandag aan elke kind. Hier is speel baie belangrik. Kinders sit nie heeldag in die klas nie, hulle klim en klouter,” sê Ferreira.
Kleuterland het ook sy eie skoollied wat op die wysie van die Liewe Heksie-liedjie gesing word.
Alle oud-Kleuterlanders word uitgenooi om die naweek saam te kuier.
Kleuterland makietie
Vrydag:
Kleuterland se 40ste bestaansjaar-vieringe begin môre met ’n konsert by NGK Eendrag-kerksaal.
Saterdag:
Om 09:00 word ’n pret-rit vanaf die parkeerarea oorkant Despatch Superspar gehou na die skool. Vanaf 10:00 word ’n basaar by die bewaarskool by Smithstraat 20 gehou. Daar sal stalletjies wees sowel as ’n speelarea vir die kinders.
’n Bring-en-braai en dans begin om 18:00 by Kleuterland.
Sondag:
Erediens om 09:00 by NGK Eendrag met ’n piekniek na afloop van die diens.
- Vir meer inligting bel Danita Ferreira by 041 933 5119.