Kleiner motorfietse vir pendel én ritte deur die boendoes

Die motorfietsmark is ’n dinamiese omgewing met verskillende markverskuiwings en tendense. Soos motorkopers se voorkeure wegbeweeg het van sedans na sportnutse, het motorfietsryers se keuse grootliks verskuif vanaf sportfietse na die sogenaamde avont


Die motorfietsmark is ’n dinamiese omgewing met verskillende markverskuiwings en tendense. Soos motorkopers se voorkeure wegbeweeg het van sedans na sportnutse, het motorfietsryers se keuse grootliks verskuif vanaf sportfietse na die sogenaamde avontuurfietse.

Benewens dié groot veranderings in die mark, is daar ook onderlinge tendense. Een van die interessantste is die groei onder kleiner fietse, so rondom 300 cc. Dit is ’n segment wat lankal aandag nodig het. Die sprong van 125 cc na 600 cc is darem net te groot en fietse so rondom 300 cc maak ideale pendelfietse.

Dit lyk asof al die groot fabrikate die leemte raakgesien het en nou probeer vul. KTM se 390 Duke doen diens in dié arena en meer onlangs het BMW ook sy G310R bekendgestel.

Daar is ook verskillende aanslagte. Terwyl die BMW- en KTM-model staatmaak op ’n enkelsilinderenjin, is Kawa­saki se Z300 en 300 Ninja toegerus met ’n seepgladde tweesilinder.

Dis nou juis hier waar dinge interessant raak. Selfs die kleinverplasing-fietse kan nie die gier van avontuurfietse vryspring nie. KTM werk aan sy 390 Adventure, BMW het kort op die hakke van die G310R ’n G310 GS bekend gestel, en uit die Kawa­saki-stal het die Versys X-300 te voorskyn gekom.

Die Versys X-300 beskik oor dieselfde tweesilinderkragbron as sy padgeoriënteerde broers, wat hom ’n heel ander karakter gee as die enkelsilinders van die mededingers.

In sy primêre doel as pendelfiets presteer die Versys bogemiddeld. Dié twee­silinder se toere hardloop vrylik en lewer ’n skaflike 29 kW. Om dit in perspektief te stel, dis amper net soveel krag as wat die KLR650 gelewer het, maar in die Versys kom die krag eers teen 11 500 toere.

Die vrylopende enjin in die ligte fiets gee die Versys ’n lekker lewendige karakter. As die toere eers aan die kook is, voel die fiets lig en swiep gemaklik deur die draaie, terwyl die windskerm goed werk om die wind weg te keer.

Ook in die verkeer is die regop sitposisie en goeie sig oor die verkeer baie welkom en met ’n topsnelheid wat draai by die 160 km/h kan jy gemaklik met snelwegverkeer byhou terwyl sluitweer-remme seker maak dat jy betyds kan stop. Die koppelaar-aksie is een van die ligste wat ek nog teëgekom het en die instrumente is volledig en maklik om te lees.

Breek die naweek aan, moet die Versys sy sekondêre hoed opsit: Dié van avontuurfiets. Hier help dinge soos ’n 19-duim-voorwiel en 17-duim-agterwiel, asook ’n grondvryhoogte van 18 cm, dat jy enige grondpad sal kan baasraak. Selfs die boendoe in is dié ligte fietsie ’n plesier.

Die feit dat die Versys slegs 175 kg weeg, tel gewis in sy guns en ’n 17-liter- brandstoftenk gee ’n lekker reikwydte van so 400 km. Daar is ook ’n reeks bybehore beskikbaar vir jou naweekavonture (17-liter-sytasse en traliewerk vir daai keer of wat dat jy gaan omval). Daar is selfs voorsiening gemaak vir ’n krag­sok op die instrumentpaneel.

Ek sou verkies het dat jy die ABS-remme kan afskakel as jy op grondpaaie ry. En die aard van ’n twee­silinder is só dat jy nie die krag by lae toere het soos jy dalk sou wou hê as jy stadig oor tegniese terrein moet beweeg nie. Die ligte koppelaaraksie maak egter korte mette van daardie probleem.

Op die oop pad en in die verkeer is die tweesilinder definitief beter as ’n enkel. Waar die enkelsilinder uitasem raak op die snelweg, hardloop die Versys se toere nog vrylik op.

Die KTM 390 Adventure is nog nie plaaslik beskikbaar nie, maar met meer as 10% meer krag as die ander Germaan, en ’n 20 km/h hoër topspoed, is die Versys X-300 heelwat meer pret in sy primêre doel as ’n pendelfiets, terwyl hy nie gaan terugstaan op ’n avontuur-naweekrit nie.

Prys: Kawasaki Versys X-300 – R75 500.

You need to be Logged In to leave a comment.