Die dag toe Irma Grigor vir die hoeveelste keer soos ’n pakdonkie by haar Plaaswerf-nasorg instap, was die dag wat daar besluit is … aikona … nou is dit tyd om regte perde in te span vir die pakkasie!
Sy het die nasorg as-ook ’n dagsorg op ’n kleinhoewe op Despatch begin waar leerders van die nabygeleë Laerskool Sonop na skool inklok vir verder leer.
“Op Vrydae het ons die kinders toegelaat om op die Walliese ponies te ry. Dit was groot pret. Toe besluit ons, vir so bietjie bederf gaan ons die kinders nou en dan by die skool haal met die perdekarretjie,” sê Irma.
By dié nasorg is dit pure plaas. Wanneer huiswerk klaar is kan die kinders hulself op die speelwerf gaan geniet en selfs met die miniatuur varkies en hasies speel.
“O vader! Die kinders stink party dae pure varkie. Ek glo ’n kind moet leer, maar speel is net so belangrike deel van leer. En hier speel hulle hulself pootuit!”
“’n Kind moet kan vat aan ’n dier, ons leer hulle om mooi te vat want dit is ’n liefde om oor te dra en ook goeie terapie,” sê Irma.
Die kleinhoewe en Walliese ponies behoort aan Gerhard Lotz, na wie daar spottenderwys verwys word as die Plaaswerf se “skoolhoof”. Sy oorlede pa, Abel Hermanus Lotz, was vroeër jare bekend op skoue vir sy pragtige Walliese ponies.
Dié bloedlyn loop nog sterk en wanneer dit tyd is om met die perdekarretjie die kinders te gaan haal is dit Wayne (28) en sy hings-seun Rapier (24) wat ingespan word. Dan is daar ook nog twee merries, Pienkie en Robyn, wat kans kry om die karretjie te trek. Hy sê ’n Walliese ponie is oor die algemeen ’n rustige perd en ideaal vir kinders.
Gerhard is bekend vir dié Walliese ponies wat ingespan word om vir troues en selfs matriekafskeide ’n spoggerige koets te trek.
Die gehaal van kinders by die skool met die perdekarretjie is nie elke dag se storie nie, want soos Irma sê, “dit is ’n bederf, ek wil nie dat hulle dit as vanselfsprekend aanvaar nie.”
Wanneer dit tyd is om die ponies in te span, moet hulle vier ritte na die skool en terug maak om al die kinders by die nasorg te kry. Op hierdie stadium maak Gerhard haar nog touwys oor hoe om die perdekarretjie te stuur.
“Sy is nog ’n learner. Ek sal haar lisensie vir haar gee as ek sien sy weet hoe om die ponies mooi te stuur,” sê Gerhard.
Hy is in die proses om ’n karretjie te omskep wat deur een ponie getrek kan word.
“Dan sal dit vir Irma makliker wees om die karretjie te hanteer. Dit is nogal ’n slag wat ’n mens moet hê om die twee ponies te stuur,” sê Gerhard.
Irma sê die beloning van die ponieritte lê in die kinders se gesiggies.
“Ek sê nie wanneer ek hulle met die perdekarretjie gaan haal nie. As hulle ons sien is dit glimlaggies van oor tot oor. Dis vir my vreeslik lekker en dan is ek ook sommer vol smiles en dan is my hart happy.
“As die ponies rus, stap ons, dit is goeie oefening en vir van die kinders die enigste oefening op ’n dag,” sê Irma.