Op Vrydag 1 Desember gaan Kersvader Despatch besoek in sy rooi slee as deel van die amptelike opening van die feesseisoen.
Hierdie jaar word die rooi slee getrek deur Hannes Meyer met sy 95 Ford Bakkie. Danksy die gemeenskap se ondersteuning met die skenk van lekkergoed, sal Kersvader pakkies uitdeel aan die kinders.
Terwyl die inwoners wag vir Kersvader se aankoms om 18:00 by die Despatch Stadsaal, kan hulle die verskillende stalletjies besoek en heerlik smul aan pannekoek en ander etes wat te koop sal wees. Ondersteun gerus die Wings & Wishes organisasie wat daar sal wees met ’n koeldrankstalletjie.
Daar is ook ’n springkasteel en plaaslike kunstenaars sal sorg vir musiek. Daar sal ook geleentheid wees vir ’n foto saam met Kersvader.
Buiten Kersvader se blitsbesoek op sy rooi slee, sal daar ook ’n rooi Kersposbus wees waarin kinders hul briefies met hul versoeke vir Kerspersente kan pos. Maak asb. seker dat jou name en mamma se telefoonnommer op jou briefie verskyn.
Hein en Karin Janse van Rensburg sal gereeld die posbus leegmaak en seker maak Kersvader kry al die versoeke.
Belinda van der Bank, organiseerder van die geleentheid, nooi almal op die dorp uit om te kom saam kuier. Mense is welkom om in die gees van die aand met ’n Kerstema aan te trek.