DIE voormalige wêreldkampioen in karate, Ethan Bothma (9), het sopas teruggekeer uit Rusland waar hy in St. Petersburg aan die 9de JSKA Karate Wêreldkampioenskap deelge-neem het om sy titel te verdedig.
Karateka uit 19 internasionale lande het aan die wêreldkampioenskap deelgeneem. Ethan het teen 15 mededingers uit dié lande kragte gemeet.
Hy het ’n algehele 3de plek behaal in kumite en daarvoor met ’n bronsmedalje teruggekeer na Suid-Afrika.
Ethan is die seun van Stephan en Mornette Bothma en volgens sy ma, was dit baie moeilik en veral die aksent van die beoordelaars het die kommunikasie ietwat van ’n probleem gemaak.
Ethan is in graad 4 by Laerskool Handhaaf op Uitenhage en is ’n lid van die L&J Karate-klub op dié dorp.
Hy was die enigste in sy ouderdomsgroep van die JSKA Oos-Kaap groep wat na die wêreldkampioenskap gegaan het, wat elke tweede jaar aangebied word.