DWELMS ruk lewens uitmekaar en die toename van dwelmgebruik onder skoliere en jongmense op Uitenhage is kommerwekkend.
Daarom het die Youth Crime Prevention Desk van Kamesh polisiestasie onlangs ’n program aangebied spesifiek om moeders in te lig waarna om op te let indien hulle vermoed dat hul kinders dwelms gebruik.
“Moeders ly dikwels die meeste, want hulle sien hoe hulle kinders vir wie hulle so baie ideale het se lewens vernietig word deur dwelms,” sê Ree-Charl Pietersen van Youth Crime Prevention Desk Kamesh.
“Ons is ’n groep jongmense wat omgee oor wat om ons aangaan. Ons wil ander jongmense oorreed om ook in ons visie te deel sodat ons ons gemeenskap kan omkeer ten goede.”
Tekens van dwelmgebruik
Miempie van Wyk van CMR Uitenhage was een van die sprekers en sê die heel eerste aanduiding dat jou kind moontlik met dwelms te doen het is wanneer jou kind se persoonlikheid en gedrag verander.
“Almal het buie, maar as ’n vriendelike kind bombasties en aggressief raak is dit gevaartekens. So-ook as hulle begin om tot laat uit te bly en om vreeslik laat te slaap. ’n Mens wat dwelms gebruik het nie woema of lewensenergie nie, hulle lyk eintlik lewensmoeg.
“Kyk jou kind in die oë – dit is die vensters na ’n siel. Dwelmgebruik laat oë bloedbelope en die pupille is dikwels vergroot. ’n Ma weet as haar kind haar nie in die oë kan kyk nie is daar fout.
“Kyk ook na jou kind se selfoon-gebruik. As hulle baie vas is aan hulle selfone en nie wil toelaat dat jy sien waarmee hulle besig is nie, is iets nie reg nie. Nog tekens is as geld of goed wegraak uit jou huis, as jou kind se eetgewoontes verander en as hulle tande drasties versleg,” sê Van Wyk.
Wanneer dit by raad kom hoe om op te tree indien ’n ouer besef ’n kind gebruik dwelms, is “tough love” volgens Van Wyk die ant- woord.
“Dit beteken dat jy lief is vir jou kind, maar haat wat hy of sy doen. Hou jou afstand, want jy kan nie ’n mens wat dwelms gebruik vertrou nie, hulle is meestermanipuleerders. Hou op om al die stories te glo oor waarvoor hul geld nodig het. Beskerm jou waardigheid en gaan klop aan vir professionele hulp by mense wat opgelei is om met dwelmverslaafdes te werk,” sê Van Wyk.
Gewetenlose manipuleerders en leuenaars
Mary-Ann , die gasspreker by die Youth Crime Prevention Desk van Kamesh se program, was vir 11 jaar vasgevang in die dwelmnetwerk.
Sy was by ’n rehabilitasie-sentrum, maar sonder sukses. Dit was eers nadat sy ’n beroerte gekry het weens dwelmgebruik dat sy besluit het om haar lewe te verander. Nou is sy al ’n jaar en vier maande skoon en wil ander help om ook los te kom uit dié dwelmhel.
Mary-Ann noem die dwelmname een vir een op, “Ek het al daardie verskillende goed gebruik … maar niks, niks, vat jou weer so high soos jou eerste high nie. Jy kan maar try, maar jy gaan net one way en dit is ondertoe. Jou waardes is uit jou uit, jy raak ’n gewetenlose niks.”
Mary-Ann was in Uitenhage op skool toe verkeerde vriende haar in die dwelmwêreld ingetrek het.
“My praat het soos ’n skollie s’n geraak. Ek’t my laat tatoeër en so maer geword dat ek my dogtertjie van 12 jaar se klere begin dra het.
“Hoe dieper jy in die dwelmwêreld vasgevang word hoe moeiliker raak dit om die volgende fix te kan bekostig en dan raak jy aggressief en doen enigiets om geld te kry. Ek het my eie ma besteel. Jy raak ’n kompulsiewe leuenaar en vertrap en misbruik mense wat vir jou lief was.”
“Vandag is ek verlos, maar glo my, die versoekings is nog daar. Maar my ma is ’n biddende moeder. Sy is altyd op haar knieë en sy hou aan bid vir my.”
Mary-Ann sê dit is belangrik dat ouers by ondersteuninggroepe moet aansluit sodat hulle weet hoe om ’n kind te hanteer wat uit ’n rehabilitasie-sentrum kom.