JEFFREYSBAAI is die beste dorp in die land.
Inwoners hoop die titel Dorp van die Jaar sal wys dat dié dorp vir meer as net sy legendariese branders bekend is.
Dié dorp aan die Oos-Kaapse kus is Sondag op kykNET as die joernaalprogram Kwêla se wenner in sy kompetisie aangewys.
Die ander twee dorpe in die topdrie is Mariental in Namibië en St. Lucia in KwaZulu-Natal.
As die wenner kry Jeffreysbaai uitsen- dingstyd ter waarde van R1 miljoen om die dorp te bemark.
“Kaapstad het die berg en ons het die branders, maar ons het goeie en warm mense wat altyd verwelkomend is. Dít is wat die dorp so uniek maak,” sê Horatio Hendricks, die Kouga-munisipaliteit se burgemeester.
Met die nuwe titel wil Hendricks nie net Jeffreysbaai nie, maar ook die groter Kouga-omgewing bemark.
“Ons glo die nuwe titel sal help om toeriste en nuwe inwoners te lok. Nuwe inwoners kan werkgeleenthede skep en ons plaaslike ekonomie help groei.”
Mariza Roux, die Kouga-sakeforum se administrateur, meen die prys vir onder meer die bemarking van die dorp sal vir ’n groot ekonomiese inspuiting sorg. “Die Kouga- gebied sal onder die aandag van beleggers gebring word, en dit kan ’n verdere voordeel vir die dorp en die omgewing inhou,” sê sy.
“Uitbundige uitroepe, liggies, papierlinte en blinkers het die dorp opgevrolik toe die nuus Sondagaand bekend gemaak is. Sjampanje is geskink en die opgewondenheid was aansteeklik.”
Hendricks sê die groter plan is om Kouga as ’n heeljaarbestemming en nie net vir vakansies nie te posisioneer.
“Hier is wonderlike blouvlagstrande, goeie branders, oopwaterswembyeenkomste en goeie restaurante – alles in ’n baie veilige omgewing.”
Hy sê die titel is te danke aan ’n gesamentlike poging deur die inwoners en hy het almal vir hul bydrae bedank.
Deon Goosen van die Jeffreysbaai Dorp van Drome-beweging het dit beaam en gesê steun is selfs uit die buiteland ontvang.
“Die reaksie was oorweldigend positief. Daar is gate in die strate en die sypaadjies is dalk nie altyd skoon nie, maar die mense het nogtans saamgewerk om die dorp te help groei.”
Binnelandse boere en ander vakansiegangers wat jaarliks na Jeffreysbaai stroom, het in die laaste week op groot skaal aan die stemmery deelgeneem. “En natuurlik het ons surfers ook gestem,” sê Roux.
“Dit is ook niks minder as reg nie dat erkenning gegee word aan een van die groot dryfvere agter hierdie oorwinning, naamlik die ontslape burgemeester, Elza van Lingen.” Van Lingen is op 19 April aan kanker dood.
“Haar wens was dat Jeffreysbaai die titel wen. Elza se deursettingsvermoë en werk- etiek het dikwels as aansporing gedien vir die beplanningskomitee onder leiding van Joe Ferreira, voorsitter van die Kouga-sake- forum, om nog meer te doen,” sê Roux.


