AL gehoor van die Jazztown nuusbrief? Dit is ’n inisiatief van ATKV Edik-tak en is propvol lekker-lees plaaslike nuus oor Gerald Smith en sy mense.
ATKV-lid Bruce Koopman, wat al op nasionale vlak van dié vereniging erkenning geniet het vir sy rol in die gemeenskap om Afrikaans te laat floreer, het met die idee van so ’n nuusbrief vorendag gekom.
“Ons doel met Jazztown is om al die positiewe en goeie stories te vertel. Die nuusbrief moet ook dien as as ’n waardevolle inligtingsbron vir ons mense,” sê Koopman.
Waar kom die naam Jazztown vandaan? Koopman vertel dat Gerald Smith al vir jare bekendstaan as Jazztown.
“Hier is baie musiekmense in Gerald Smith. Van die bekendes is Joey Moses wat deel was van die bekende en destyds baie gewilde The Invaders en ook Tururu of dan Patrick Lindoor om maar ’n paar name te noem.”
Verlede Saterdag op Jeugdag, het die lede van ATKV-Edik uitgawes van die eerste Jazztown in Gerald Smith gemeenskap uitgedeel.
“Op hierdie unieke manier wil ons poog om oud en jonk weer lief en lus te laat word vir lees. Dit is veral die kinders wat ons op fokus om hulle lief te maak vir lees,” sê Koopman.
Die Jazztown nuusbrief gaan maandeliks verskyn en sal deur ATKV-lede tussen Gerald Smith se mense uitgedeel word. Dit sal ook by die ATKV Jazztown biblioteek by Lukiestraat 90 beskikbaar wees.
Stories oor hoe Gerald Smithers in murg en been saamstaan en moue oprol om morsjorse ’n bedreigde spesie te laat word, as-ook die verering van Jazztown musikante kan in die eerste uitgawe gelees word. Vir die jongspan is daar interessante brokkies nuus oor vreemde diere en lekker leesboeke.
- Vir meer oor Jazztown se nuusbrief en ATKV Edik se bedrywighede in Gerald Smith gesels met Bruce Koopman by 083 762 8475.