Die Isuzu-bakkie, ’n kanniedood op talle plase en plattelandse paaie, vier vanjaar sy 40ste verjaardag in Suid-Afri-ka.
Plaaslike produksie van die Japanese bakkie is in 1978 by General Motors se fabriek in Kempstonweg in Port Elizabeth begin.
Die eerste 1,6 liter-petrolenjinmodel is vir R3 485 verkoop en die 2-liter-dieselbakkie vir 4 295.
Johan Vermeulen, groepbestuurder vir vervaardiging en verskaffingsketting van Isuzu Motors Suid-Afrika, sê die bakkie het oor die jare verander, maar bly steeds een van Suid-Afrika se gunsteling- ligte handelsvoertuie.
“Ons het produksie by die Kempstonweg-aanleg begin waar ons vyf generasies van bakkies vervaardig het voordat ons na die moderner Struandale-aanleg geskuif het waar die sesde generasie gebou word.”
Die Isuzu-bakkie was die eerste een in Suid-Afrika met tandrandaandrywing (rack-and-pinion) en onafhanklike vering aan die voorkant, sê Vermeulen.
In die 1990’s was Isuzu ook die eerste bakkievervaardiger wat dubbelkajuitbakkies na Suid-Afrika gebring het.
Die bakkie het in plaaslike uithouritkompetisies verskeie pryse gewen. In 2010 het Isuzu-bakkies 15 snelheid- en afstandrekords in die Gerotek-kompetisie behaal.
Die nuutste generasie Isuzu-bakkie is in 2013 bekend gestel. Meer as 600 000 Isuzu-bakkies is oor die afgelope 40 jaar in die land gebou.