DIE leisels as skoolhoof van Laerskool Innes word met ingang April amptelik oorgevat deur meneer Koos Britz.
Op die vraag, wat is lekker aan skoolhou? Antwoord Britz: “Om met my ou 22-jarige rooi Nissan 1400 bakkie in die oggend skooltoe te ry. Dit mag na ’n simpel antwoord klink, maar in daardie bakkie is ek op pad om my passie te gaan uitvoer!”
Op Innes se skoolwapen is daar ’n kompas, radiomas met radiogolwe en kettingband.
Dit is die simboliek van veral die kettingband waaroor Britz sterk voel: ’n onbreekbare band van saamstaan en samehorigheid om die opvoedingstaak met sukses aan te pak.
Britz neem sedert verlede jaar September waar as skoolhoof na die aftrede van Leslie Stander.
“Ek was bevoorreg met ’n ongelooflike mentor in Leslie te kon hê. Wat ek by hom oor onderwys geleer het is van onskatbare waarde,” sê Britz, ’n boorling van Cradock.
“Die dag toe ek in 1983 as ’n beginner onderwyser hier by Innes ingestap het, sou ek nooit kon dink 36 jaar later sal ek hier die skoolhoof wees nie.
“Ek was ’n plaasjapie en het gereken ek sal so 2 jaar uithou en dan terugkeer platteland toe, maar hierdie area het in my hart ingeklim en hier is ek nogsteeds.”
Britz sê wat vir hom belangrik is, is dat “’n kind gelukkig moet wees by die skool en dat ouers die gerusstelling moet hê dat hulle kinders in goeie hande is.”
Die Britz-gesin is almal “linkerbrein-mense” want Koos se vrou Linda was ’n wiskunde-onderwyser by Brandwag, sy seun Francois gee wiskunde by Marlow en sy dogter Lise-Mari is ’n finansiële bestuurder.
- Daar is tans 620 leerlinge, vanaf graad R tot 7 by Innes. Hoogtepunte wat voorlê is die Boeresportdag op 1 Maart, Toyota/Innes Rugby- & Netbaldag op 5 & 6 April en die jaarlikse basaar op 31 Mei.