=Doreen Matthews (80) is die huismoeder van een van Huis Minette se huise vir volwasse verstandelik gestremdes. Hier sit sy saam met (voor van links) Chester, Craig en Carol. Agter staan Anel, Mavis Cibi, Isabel, Kevin en JP. Foto:HEILIE COMBRINCK


SY is vandag 80. Hulle noem haar tannie Dorie, ma of mammie, daar in Huis Minette waar Doreen Matthews as huismoeder omsien na sewe volwasse verstandelik ge-stremde inwoners.

Doreen het dekades gelede haar loopbaan in verpleging begin, maar na die geboorte van haar dogter, wat ook verstandelik ge-stremd was, het sy van beroep verander.

“Die lang ure van verpleging het dit vir my moeilik gemaak om my dogter te versorg. Toe trek ons platteland toe en ek kry ’n werk as posmeester van Alicedale,” sê Doreen vanuit Huis Minette se sonkamer op Uitenhage.

“As posmeester was ons huis naby die klein poskantoortjie en ek kon tussendeur die werk na my dogter omsien. Dit was wonderlike jare.”

Toe, 20 jaar gelede, kom Doreen terug na Uitenhage en begin as huismoeder werk by Huis Minette, ’n geregistreerde nie-wins- gewende organisasie wat deur Gerrie en Isabella Bezuidenhout in 1994 gestig is om om te sien na verstandelike gestremde volwassenes.

Daar is twee huise en in die ander huis op die aangrensende erf word daar na 18 verstandelik gestremde inwoners omgesien.

“Ek versorg die kinders – ons noem hulle kinders – soos my eie. Ek sorg dat hulle ordentlik aantrek, kyk na hulle higiëne, maak vir hulle lekker huiskos, gesels en troos wanneer dit nodig is.

“Omdat my dogter verstandelik gestremd was, is dit my passie om hierdie kinders in liefde te versorg. En húlle onvoorwaardelike liefde hou my aan die lewe,” sê Doreen.

Haar dogter is twee jaar gelede oorlede op die ouderdom van 57 jaar.

Doreen sê sy kan nie alles alleen doen nie en daarom is Mavis Cibi, wat net so lief vir die inwoners is, haar regterhand. Die inwoners help self ook met dagtake in en om die huis. Doreen dien ook op die bestuur.

“Nou en hier – is wat belangrik is. Gister is verby en ons weet nie of môre gaan kom nie. Elke dag is genade van die Here af,” sê Doreen.

Anel, een van die inwoners sê, “Ons gaan vir ma ’n lekker sokkie-sokkie op haar verjaardag hou. Ek het ’n CD-player en ek gaan vir haar Nicholas Louw en Kurt Darren speel. Sy hou van hulle en ons gaan dans!”

You need to be Logged In to leave a comment.