DIE reuse 3 300m² perseel van Techno Kidz, voorheen bekend as Bollie Bewaarskool, gaan ’n miernes van bedrywighede vir die kleinspan wees tydens dié dag- en nasorgsentrum se komende basaar.
Uitenhage sakeman Vingers Jonker het sowat ’n jaar gelede die perseel gekoop en die geboue en veiligheid opgeknap sodat dit nou een van die toonaangewendste sentrums vir kinders in die Nelson Mandelabaai is.
Dié basaar en pretdag word op Saterdag, 4 Mei gehou en skop om 08:00 af met ’n gemaklike 2km pretloop vir ouers en kinders deur die buurt.
Na afloop van die pretloop gaan bekende radiopersoonlikheid en kampvegter teen boelies, Gertjie de Jager, aan die roer van sake wees as seremonieman van die dag.
As deel van die program gaan plaaslike opkomende sangers optree, daar gaan toutrek wees, knortjorre kan gery word en daar sal ’n verskeidenheid stalletjies met eetgoed en snuisterye wees sowel as ’n teetuin en mannetent. ’n Vleislootjie kan ook gekoop word en die trekking sal op die dag gehou word.
Vir die kleinspan is daar drie springkastele, twee 10m glybane, Jungle Gyms, gesigverf met Popsi die Nar en speletjies.
“My doel met Techno Kidz is om ’n sentrum vir babas en kinders te vestig wat meer bied as die gewone. Veral om werkende ouers se las te verlig sodat hulle weet hulle kinders is by ’n plek waar daar na hulle omgesien word en waar hulle veilig is,” sê Vingers Jonker, eienaar van Techno Kidz.
Veiligheid by dié sentrum is vir Jonker van hoogste prioriteit en daarom het hy ’n uitgebreide kamera- en alarmnetwerk op die perseel aangebring.
“Ons het die skoolure verleng van 06:00 tot 18:00 en kinders kan selfs langer bly, indien daar vooraf reëlings getref is.”
Om dié diens te kan lewer het Jonker ’n woonstel op die perseel opgerig waarin daar ’n inwonende gekwalifiseerde onderwyseres bly wat na die kinders omsien.
“Selfs ouers wat op weeksaande uitgaan of Saterdae nie tuis is nie en ’n plek soek waar hulle kinders in veiligheid kan bly en versorg word, kan vooraf reëlings tref en hulle by Techno Kidz aflaai teen ’n fooi,” sê Jonker.
Die sentrum se kombuis en babasaal is heeltemal oorgedoen. Elke klas het nou ook sy eie yskas, medisynekas en eie speelplek onder supervisie.
Techno Kidz sien bedags om na babas vanaf 3 maande oud tot graad R kinders en vir nasorg tot en met graad 7 kinders. Die sentrum is in Wistariastraat op Uitenhage.
- Die Techno Kidz basaar op Saterdag, 4 Mei is van 09:00 tot 13:00 en toegang is gratis.