‘Hiér word suurstof gemaak…’

Deur immergroen klowe, verby boomryke berghange en fynbosveld tot by die woenstynagtige Noorsveldvlakte by die Darlington­-dam . . . dít alles bied die Bedrogfontein 4×4-roete, skryf Mariska Spoormaker nadat sy en vriende dit gaan aanpak het.


Drie veteraan-vastrappers, ’n Landrover Defender en twee VW 4×4 Syncro’s het die unieke Bedrogfontein 4×4-roete in die Kabouga-gedeelte van die Addo-olifant nasionale park omtrent ’n belewenis gemaak.

Deur immergroen klowe, verby boomryke berghange en fynbosveld tot by die woenstynagtige Noorsveldvlakte by die Darlington­-dam . . . dít alles bied die Bedrogfontein 4×4-roete, skryf Mariska Spoormaker nadat sy en vriende dit gaan aanpak het.

Daar staan ons in die ongerepte oneindigheid om ons gestrek. Dis vroegoggend, herfskoud.

“Dis hier waar hulle die wêreld se suurstof maak,” sê my kollega Cara-Lee Dorfling, “trek jou asem diep in, dan voel jy dit!”

Ek asem die reuk van plant en grond saam met suurstof in – ’n oomblik om nooit te vergeet nie.

Soos getroue perde staan die drie bielies in die pad en wag vir ons: ’n Landrover Defender (1988) en twee VW 4×4 Syncro’s (onderskei-delik 1989 en 1992).

“Kyk hoe hang die herfs aan die hange,” sê die fotograaf Heilie Combrinck, mik met haar kamera soontoe en sê dan “Sjô, die kamera vang dit nie vas soos die oog nie.”

Hier gaan fotogeleenthede in flits-sekondes verby.

Te gou kom ’n mens by die panoramiese uitsig oor die Noorsveldvlakte en die Darlingtondam uit . . . wat beteken jy nader die eindpunt van die Bedrogfontein 4×4-roete.

Die roete

Ons sestal grootmense én klein Kenzie (21 maande) is op Sanparke se Bedrogfontein 4×4-roete in die Kabouga-gedeelte van die Addo-olifant nasionale park.

Kyk hoe hang die herfs aan die hange. Sjô, die kamera vang dit nie vas soos die oog nie!

’n Mens kan die 45 km-lange roete met jou eie ryding aanpak van Kirkwood se kant af tot by die Darlingtondam. Die roete het ’n 2-3-gradering, wat beteken jy hoef nie ’n bedrewe veldryer te wees om dit baas te raak nie, maar op die moeiliker dele gaan jy waarskynlik ’n laestrek-ratkas en ewenaarslot nodig hê. Dis onder meer tekkievastrap oor rotsagtige rivierbedding, klou teen die klipperige supersteiltes uit en kophou in die haarnaaldboë.

“Dink jy regtig julle ou karretjies gaan dit maak? het Fayroush Ludick, streekskommunikasiebestuurder van Sanparke, voor ons vertrek gevra.

“Onthou die sleepkabels!”

Maar dit is nie hierdie soort tegniese uitdagings wat die Bedrogfontein-roepstem vir ons laat opgaan het nie, dit is die prysliedere oor die spekboom-, kiepersol- en broodboom-woude, die Oumansbaard-lanings en die panoramiese uitsigte, die koedoe, gemsbok, bosbok, jakkals, ribbok, volstruis, vlakvark en steenbok in die amper ongeskonde aarde.

In hierdie gedeelte is nie olifante en leeus nie, so jy kan uit die voertuig klim.

Oorlog en bedrog

Ons hoop ook om die fontein wat aan die roete sy naam gegee het te kan opspoor.

Die Bedrogfontein 4×4-roete loop deur lowerryke klowe en rivier-ruigtes, verby boomryke berghange en fynbos op die plato van die Zuurberg

Blykbaar gee dié fontein water, maar nié sodat jy dit kan sien nie, want die water loop ónder die rivierklippe. Dit is glo so halfpad op die roete, by ’n dam, maar ons kry dit nie – seker omdat die droogte al minstens vier jaar lank heers in die gebied.

Hierdie hoogtes en klowe was ook die mees suidelike slagvelde van die Anglo-Boereoorlog. Sowat ’n duisend Engelse berede troepe het die steil pas opgekom. Toe die Boerekommando, onder aanvoering van genl. Jan Smuts, op hulle losbrand, het die meeste perde paniekbevange met ruiter en al oor die krans na hul dood 300 m ondertoe getuimel.

Ons weet nie presies waar dié “Slag van Bedrogfontein” afgespeel het nie, maar dit spook by my elke keer wanneer die pas te nou en die afgrond te diep ondertoe is. Oorlog is wreed. Teenoor mens, dier én natuur.

Slaapplek

’n Huis wat bly staan het, heet deesdae die Kabouga Cottage en het slaapplek (maksimum ses) vir diegene soos ons wat vroeg die volgende oggend die 4×4-roete wil aanpak.

Die braaiplek onder ’n reuse geelhoutboom in ’n ou oopgebreekte plaasdam, die 400 m se klim na die topografiese uitsig en die Duiker-sirkelroete teen die berghang uit maak dit ’n lekker oornagplek.

As jy eerder wil kamp, is daar die Mvubu-kamp (nader aan die Kirkwood-hek) met basiese geriewe.

Dit maak egter nie saak waar jy bly nie, sorg net dat jy vroegoggend reeds in die pad val, want dit is ’n belewenis om deur die natuur te ry terwyl dit nog wakker word.

Hier kry “douvars” ware betekenis en ruik ’n mens Cara-Lee se suurstof-fabriek.

Net wanneer jy teleurgesteld wil voel omdat jy hoër klim en die lowerryke klowe agterlaat, vou die ander wonders oop: plate broodbome orals, fynbos en panoramiese landskappe.

Niekie Dorfling is ’n meganiese ingenieur wat al werkaanbiedinge van Nieu-Seeland gekry het. Hy drink die uitsig tjoepstil in. “Dis hierdie goed wat ek gaan mis, daarom gaan ek nie,” sê hy.

Terwyl die grootmense gesels, hou klein Kenzie van Biljon (21 maande) haar lyf GPS sodat die grootmense die regte roete kan volg.

Noorsveldvlakte

Oor die volgende berg uit is dit die senutergende haarnaalddraaie na die Noorsveldvlakte (Nama-Karoo) doer onder. Die Darlingtondam blink onder die bakkende son.

Ná die klowe se immergroen lyk dié vlakte éérs na ’n woestyn – dis byna ondenkbaar dat daar seekoeie in die omgewing van die dam is.

Maar wat, lowergroen en kurkdroog ís verskillende kante van dieselfde Suid- Afrikaanse munt en ons vat die “droë” pad tot waar dit naby Wolwefontein by die R75 aansluit.

En ons lag toe ons mekaar groet, want Honger (vir avontuur), Pumba en Rafiki – onderskeidelik die Landie en VW 4×4 Syncro’s – het dit met gemak gemaak.

Niks van “ou karretjies” nie, hierdie is veteraan-vastrappers!

Wat jy moet weet

) Hoeveel kos dit? R555 per voertuig per dag plus ’n daaglikse bewaringsfooi van R69 per volwassene en R35 per kind.

) Waar bly ek? Kabouga Cottage: R600 per nag vir twee mense. Mvubu kamp: R150 per staanplek vir twee mense. In beide gevalle betaal jy ekstra vir bykomende gaste. 

) Kan ek met my Corsa gaan? Nee, slegs viertrekvoertuie met ’n laestrekratkas word toegelaat.

) Hoe moet ek ry? Jy mag die roete net in een rigting ry van Kabouga na Darlington.

) Waar’s die naaste ingang?Jy kan by die Kabouga-hek buite Kirkwood ingaan, maar dan het jy slegs toegang tot hierdie deel van die park en nie tot die res waar jy olifante en leeus sal sien nie. 

)Wat moet ek bring? Kontant, want daar’s nie kaartgeriewe by die Kabouga-hek nie. Onthou jou visstok, jy mag by Mvubu en die Darlingtondam visvang. Onthou ook braaihout!

) Waar bespreek ek? Addo-ontvangs by 042 233 8619, of per e-pos by addoenquiries@sanparks.org, of Fayroush.Ludick@sanparks.org

You need to be Logged In to leave a comment.