DIE Solidariteit Helpende Hand se Uitenhage-tak hou op 1 September ’n gholfdag by die Uitenhage Gholfklub in samewerking met die Setperk Legendes-tak van Helpende Hand.
Die gholfdag sal dien as ’n fondsinsameling vir die Helpende Hand Uitenhage Gemeenskap Studiefonds.
Die Ons Winkel in Uitenhage se fondse het vanjaar gesorg dat die Gemeenskap Studiefonds gestig kon word en in 2018 is een student voorsien van ’n rentevrye studielening.
Met die gholfdag beoog hulle om genoeg fondse in te samel om nog studente te kan ondersteun in 2019.
Helpende Hand se Studiefondssentrum ken rentevrye studielenings aan studente toe wat hulle dan weer begin terugbetaal sodra hulle afgestudeer het.
Hierdie manier van werk sorg weer dat Helpende Hand ’n volhoubare meganisme kan onderhou waar die een student weer die volgende befonds.
Die gholfdag sal die vorm van “IPS” (Individual Point Stableford) aanneem. Besighede kan ’n setperk of bof borg teen R250 elk en R750 elk vir motorhandelaars. Die inskrywingsgeld vir 4-balle is R1000.
Speel saam met Rudi
Rudi Koertzen, voormalige internasionale krieket skeids-regter sal as gasspreker en tak-beskermheer optree vir die dag. Gholfspelers kan ook ’n aanbod maak om Rudi in te sluit by hul 4-bal.
- Vir enige borge van ’n setperk, bof, 4-bal of prys, asook enige navrae, kan ’n e-pos ge-stuur word aan marlene@helpendehand.co.za.
- Studente word ook aangemoedig om voor 30 September 2018 aansoek te doen vir ’n rentevrye studielening by Helpende Hand se studiefondssentrum www.studiefonds.co.za